5 dae gelede
Taai stryd op menu
David Notoane
David Notoane  ~ _gallo images

KEER, keer en nogmaals keer ...

Dít sal die benadering van die Suid-Afrikaanse Olimpiese sokkerspan moet wees wanneer hulle vandag in Tokio teen die gasheer, Japan, te staan kom.

Daar wag ’n opdraande stryd vir David Notoane, afrigter, se span. Hy het dit self ook al in soveel woorde erken nadat verskeie van sy beste spelers op die nippertjie weens besmetting met Covid-19 moes tuisbly.

Redes

Verdere positiewe toetse het daartoe gelei dat nóg drie lede van die SA span in afsondering geplaas moes word.

Dan is die span voor sy vertrek ook kwaai getref deur die skielike besluit van Lyle Foster, Fagrie Lakay, Abbubaker Mobara, Sipho Mbule en Keletso Makgalwa om hulle om verskeie onbekende redes te onttrek.

Daar was dus vir die Suid-Afrikaners nie veel tyd om te gaan sit en uitwerk hoe hulle ’n baie goeie Japanse span op die aanval kan uitoorlê nie. Daarom sal die ’n premie op goeie verdediging geplaas moet word.

Vir Kaizer Chiefs het dié taktiek veral goed gewerk in die CAF Champions League­. Die wiele het ongelukkig in laas week se eindstryd vir die Amakhosi afgeval toe Al Ahly hulle met 3-0 laat les opsê het.

Notoane se span, wat hoofsaaklik uit die land se beste o. 23-spelers bestaan, is egter ’n span wat al in die kwalifisering vir Tokio 2020 gewys het hy hét veggees en verdien om by die Spele te wees.

Notoane sal hoop dat verdere toetse vir Covid-19 voor vandag se wedstryd nie sy span se beplanning verdere terugslae sal gee nie.

Die wedstryd tussen Suid-Afrika en Japan begin 12:50 regstreeks op Grandstand (SuperSport se kanaal 201).

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters