8 dae gelede
Taai een lê voor
ingevoer: Tienie Burger is een van die Southern Kings se voormalige Cheetahs.Foto: gallo images  ~ 

DIE Southern Kings sal hoop hulle geluk draai volgende Vrydag in die Baai.

Hulle en die Cheetahs pak mekaar dan in ’n Pro14-kragmeting.

Dié wedstryd sou aanvanklik volgende Saterdag beslis word, maar aangesien die Suid-Afrikaanse krieketspan dan ook in ’n internasionale eendaagse wedstryd teen Paki­stan op St. Georgepark speel, is dit geskuif.

Die Kings het dié seisoen, hul tweede in die Pro14, nog net een wedstryd gewen.

Hulle het hul eerste Pro14-seisoen geëindig met een oorwinning. Hulle kan dus net verbeter.

Die Cheetahs lek waarskynlik hulle lippe af vir dié kragmeting, want die Kings het hulle nog nie in dié kompetisie geklop nie.

Die Kings het egter bitter naby aan ’n sege gekom in dié spanne se laaste krag­meting verlede seisoen.

Hulle het toe met 20-29 in die Nelson Mandelabaai-stadion verloor.

Die Kings se afrigter, Deon Davids, sê: “Ná ons eerste wedstryd van die jaar het ons onsself krities ontleed.

Goed

“Daar is ’n paar dinge waaraan ons hard sal moet werk voor dié belangrike derby­ teen die Cheetahs.

“Die Cheetahs het die jaar goed begin in die Pro14 met ’n oorwinning die naweek.

“Hulle is ’n goeie span, een waarvoor ons goed voor­bereid moet wees. Ons voorsien ’n taai stryd, juis omdat dit ’n baie tradisionele Suid-Afrikaanse derby sal wees.”

Die Kings se Tertius Kruger­, Sarel Pretorius en Tienie Burger is voormalige Cheetahs.

Hopelik dra juis dié manne by tot ’n sege oor die Bloemfonteiners.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters