Verlede maand
Swem bring dalk eerste goue
TOKYO, JAPAN - JULY 25: Tatjana Schoenmaker of Sou
DANKIE: Tatjana Schoenmaker deel haar vreugde nadat sy vir die eindstryd van die 100m-borsslag gekwalifiseer het.  ~ Roger Sedres

TOKIO. – Suid-Afrika kan Dinsdag in die vroeë oggendure sy eerste medalje op die Olimpiese Spele in Tokio (Japan) vier.  

Dit is wanneer die swemsensasie Tatjana Schoenmaker vir die eindstryd van die 100 m-borsslag vir vroue aantree. Dit is die eerste keer dat Schoenmaker in 'n Olimpiese eindstryd sal swem. Sy het Maandagoogend haar halfeindstryd in tyd van 01:05.07 gewen.

Dit was indrukwekkend om te sien hoe Schoenmaker die wêreldrekordhouer in die 100m-borrslag, Lily King van Amerika oor die laaste paar meter oorweldig het.

King, wat in Rio goud in die item gewen het, was tweede in 'n tyd van 01:05.40. 

Lydia Jacoby het die tweede halfeindronde gewen in ’n tyd van 01:05.72, met die Sweed Sophia Hanssen tweede in 01:05.81.

Yuliya Efimova (Rusland), wat silwer in 2016 op die Spele in Rio gewen het, was derde in 01:06.34.

Schoenmaker was uiteraard tevrede met hoe haar wedloop verloop het.

Sy het aan Son gesê: “Die doelwit was om te sien hoe my liggaam in die oggend gaan reageer. Ek het effens moeg gevoel. Dit was opwindend dat ek by Lily King kon bly. Ek het bereik wat ek wou en dit was is om die regte baan vir die finaal te verseker."

Die swemmer van Tuks het tot dusver 'n fantastiese Spele beleef. Sy het Sondag reeds stem dik gemaak in die swembad deur ’n nuwe Olimpiese Spele-rekord (01:04.82) in die 100m-borsslag op te stel. Haar tyd is een van die tien vinnigste ooit in die item.

Rocco Meiring, Schoenmaker se coach, erken dat hy onkant betrap is deur hoe goed Schoenmaker tot dusver vertoon het. 

Meiring sê: “Ek is regtig bly vir Tatjana. Sy het soveel opgeoffer in die opbou van die Spele. Maar sy het nog niks gewen nie.

Suid-Afrikaanse sportliefhebbers moet besef dat die regte resies nog nie begin het nie. Die groot name hou dalk hul beste vir laaste.”

Die eindstryd van die 100m-borrslag vir vroue word Dinsdag 04:17 Suid-Afrikaanse tyd geswem. Die swemuitdunne word vanaf 03:35 op SuperSport se Grandstand-kanaal (201) en kanaal 203 uitgesaai.

Swem en ander watersportsoorte word ook vanaf middernag op SABC 3 uitgesaai.  

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters