2 maande gelede
Swaar tye die moeite werd
keegan
TROTS: Keegan van der Merwe in die kleure van die Itheko-atletiekklub.  ~ Foto Verskaf

KEEGAN van der Merwe moes ’n lang pad stap, maar sy droom om die Westelike Provinsie se atletiekspan (WPA) te haal, is uiteindelik verwesenlik.

Die 26-jarige naelloper van Mitchells Plain is tans in Pretoria, waar hy die WP by ASA se nasionale byeenkoms verteenwoordig.

Sportdag

Hy gaan in die 400 m en die 4x100 m-aflos in aksie wees.

Van der Merwe se reis het in 2016 begin toe Carmen Lewin en Mark Lewin hom by ’n kerk se sportdag op ’n veld sien hardloop het.

Hulle het aangedring dat hy by ’n klub moet aansluit.

Dit is waar sy afrigter, Jonathan Dreyer, hom onder sy vlerk geneem het.

“Ek het van toe af geweet dat ek, ten spyte van my omstandighede, baie opofferings sal moet maak om my doelwitte te bereik,” het Van der Merwe gesê.

Hy vertel verder: “In 2018 moes ek trein steel en op die dak van die trein sit omdat dit so vol was.

“Dit was net om van die oefenveld tot by die huis te kom.

“Toe daar nie treine in diens was nie, moes ek loop. Met die gebrek aan finansies moes ek van Beacon Valley in Mitchells Plain na UWK in Bellville of Vygieskraal in Athlone stap om by die training uit te kom.

“Dit het my sowat drie en ’n half uur gevat om by die baan uit te kom.

“Ek oefen dan vir ’n uur en stap weer drie en ’n half uur terug huis toe.

“Ek het dit egter met soveel liefde en oortuiging gedoen omdat ek geweet het dat dit eendag die moeite werd gaan wees.

“Toe ’n vriend, Cameron du Toit, hoor hoe ver ek moet stap, het hy my ’n fiets gegee wat my reis van drie en ’n half uur na ’n uur en ’n half verminder het.

Dankbaar

“Baiekeer het ek net ’n paar stukke droë brood gehad voor ’n moeilike oefensessie, maar ek het gebid en geglo dat God my sal help.”

Van der Merwe is baie dankbaar vir die ondersteuning wat hy ontvang het van sy familie, sy vriendin, Andrèa­ van Wyk, die gemeenskap en selfs vreemdelinge wat hy langs die pad ontmoet het.

“Ek wil almal bedank wat my gehelp het en hulle trots maak,” het Van der Merwe bygevoeg.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters