Verlede maand
Superrugby bly ’n hit
DUNEDIN, NEW ZEALAND - FEBRUARY 05: Aaron Smith po
Aaron Smith en die Highlanders meet Vrydag kragte met die Crusaders  ~ Getty Images

SUIDELIKE halfrond-rugby gee Vrydag sy amptelike eerste tree in ’n nuwe era in.

Soos julle reeds weet het 2020 en die Covid-19-pandemie vir ’n hengse opskudding gesorg in hoe die rugbylandskap onder die bondgenote van Sanzaar (beheerliggaam) sou verander.

Suid-Afrika het weggestap van die Superrugby-tafel, terwyl daar ook reuse-onsekerheid heers oor die toekoms van die vierhoekige toetsrugbykompetisie, die Rugby Championship, sodra die wêreld tot ‘n meer normale landskap terugkeer.

In Australië het dié rugbyland reeds verlede week met sy eie Superrugby AU-kompetisie begin. Dié naweek is dit die Nieu-Seelandse spanne se beurt om hul Superrugby Aotearoa-kompetisie te begin, terwyl daar in Suid-Afrika ’n voorbereidingskompetisie afskop om die Bulls, Lions, Sharks en Stormers te help om vir hul toetrede tot Noordelike halfrond-klubrugby se Pro16-kompetisie gereed te maak.

Son se sportkantoor het eintlik net die ander dag ’n klein debat gehad oor of dit nog relevant gaan wees om oor Superrugby te skryf, siende dat geen Suid-Afrikaanse spanne daarin betrokke gaan wees nie.

My argument was natuurlik dat veral die Kiwi-spanne ’n massiewe ondersteunersbasis in Suid-Afrika het. Voor in die koor is natuurlik die bekende – of sal ek sê berigte – Cape Crusaders wat tradisioneel die Nuweland-stadion kom rooi verf het wanneer dié span uit Christchurch die Stormers kom aandurf.

Soos jy weet, was die hitte altyd behoorlik opgedraai vir sulke kragmetings, en nie net op die veld nie. In die pawiljoene is daar gewoonlik warm onder die kraag geraak soos bekgevegte onder Stormer- en Crusader-ondersteuners uitgebreek het. Soms méér as net bekgevegte, maar ons los dit maar nou daar.

Hartseerlik sal sulke wedstryde nooit weer gesien word nie, met ondersteuners van die Bulls, Lions, Sharks en Stormers wat nou moet gaan huiswerk doen oor spanne met name soos Newport Gwent Dragons, Treviso Benetton, Llanelli Scarlets en dies meer. Toemaar, daar is darem bekende Pro16-klubs soos Munster, Leinster en Edinburgh wat belangstelling sal lok en meer as gereeld op TV te sien is. Dit is nou as jy deur 80 minute van dié rugby kan sit sonder om aan die slaap te raak, of te besluit om eerder oor te skakel na die Engelse Premierliga-sokkerkanaal.

Tog was die Suid-Afrikaanse Rugbyunie dalk reg om eerder Superrugby vaarwel toe te roep. Ek meen die reiskostes om in Australasië uit te kom, was asemrowend hoog, terwyl SA spanne deur verskillende tydsones moes vlieg en dan soms minder as ’n week kans gehad het om van vlugvoosheid te herstel voordat hulle ’n Australiese of Nieu-Seelandse span moes aandurf.

Nou gaan ons SA spanne in die Pro16 darem net in een rigting moet vlieg en minder as ’n dag op vliegtuie deurbring en sommer hope tyd hê om vir hul teenstanders uit Ierland, Wallis, Skotland en Italië gereed te wees.

Of die kwaliteit van rugby egter dieselfde gaan wees, is ’n vraag wat eers dán beantwoord sal kan word. Maar soos die SA spanne in die pas afgelope Curriebeker gespeel het, is dit maar moeilik om te voorspel of rugbyliefhebbers hul naweke gaan prysgee om ’n geskop en jagery van die bal en alewige skrums en rolmale te aanskou.

Jammerlik vir Superrugby in sy huidige formate is dit net die Nieu-Seelanders wat verlede jaar gewys het hulle is vasbeslote om die gehalte van rugby hoog te hou. Ek kan amper nie ’n wedstryd in laas jaar se Superrugby Aotearoa onthou waar een span met die ander een weggehol het nie. Selfs die Chiefs, wat sewe keer op hul baadjie gekry het, was maar net twee of drie punte weg van ’n sege in hul kragmetings.

Soos gewoonlik sal die Crusaders weer dié kompetisie as die groot gunstelinge vir die titel betree, maar moenie vanjaar die Blues of selfs die Highlanders afskryf nie.

Die Highlanders kry Vrydag reeds hul eerste kans teen die magtige Crusaders om hul titelaanspraak duidelik te maak.

Dit gaan ook lekker wees om rugby in ’n volgepakte stadion te sien. Om te sien hoe 30 mans, met leë stadionstoele in die agtergrond, mekaar disnis duik, is glad nie genotvol nie.       

Superrugby op TV (SuperSport)


Vrydag, 26 Februarie
08:00: Superrugby Aotearoa – Highlanders t Crusaders (SS Rugby, 211)
10:40: Superrugby AU – Reds t Rebels (SS Rugby, 211)

Saterdag, 27 Februarie
08:00: Superrugby Aotearoa – Hurricanes t Blues (SS Rugby, 211)
10:40: Superrugby AU – Brumbies t Waratahs (SS Rugby, 211)


Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters