3 maande gelede
Suid-Amerika wéér faktor
neymar jr.Foto’s: GALLO IMAGES  ~ 

NES vier jaar gelede hou die Suid-Amerikaners wéér die grootste bedreiging in om aanspraak te maak op sokker se Wêreldbeker-titel.

En al het nie een van die uitstaanspanne soos Brasilië, Argentinië, Columbia, Peru en Chili die titel in 2014 verower nie, het hulle beslis ’n massiewe impak gemaak.

Chili was aan die brand toe hy verby Spanje gevorder het in die groepfase.

Columbia het met sy gevaarlike aanval van James Rodríguez en Juan Cuadrado sy span tot die kwarteindstryd geneem in die afwesigheid van Radamel Falcao. Dié keer is dié talisman fiks en lyk Columbia nog meer van ’n bedreiging.

Brasilië se Samba Boys, wat gelei word deur Neymar, was die gunsteling op tuisbodem, maar dis voordat die wiele afgeval het in ’n vernederende nederlaag van 1-7 teen Duitsland in die halfeindronde. Die Duitsers het toe heelpad gegaan en die titel beklink.

Argentinië, met sy maestro Lionel Messi aan die voorpunt, was goeie waarde vir geld en het net drie doele afgestaan op pad na die eindstryd.

Hulle het byna die eindstryd tot penalties gevat voordat Mario Götze die uitklophou geplant het.

Luis Suárez se Uruguay-span verdien ook ’n eerbare aanspraak. Benewens sy nederlaag in sy eerste wedstryd van die groepfase, het die manne dit opgevolg deur Engeland én Italië ore aan te sit om na die kwarteindronde deur te dring.

Die feit dat Chili, die wenner van die vorige twee Copa América-toernooie, nié gekwalifiseer het vir die skouspel nie, is ’n duidelike aanduiding van die Suid-Amerikaners se bedreiging in Rusland.

Peru is nóg ’n buiteperd van die kontinent wat nie onderskat moet word nie. Sy sterspeler Paolo Guerrero, tesame met Luis Advíncula en Nilson Loyola, is uitgeslape kalante.

Nóg ’n span wat kan verras, is Mexiko. Die El Tri, soos Mexiko genoem word, sal verwag dat sy ervare strik­er Javier “Chicharito” Her­nández beslis van voor sal lei.

Dis byna twee dekades sedert ’n span van Suid-Amerika (Brasilië, 2002) laas die wêreldkroon gedra het.

Daar word verwag dat dit in Rusland weer die geval sal wees, maar watter Suid-Amerikaanse span sal seëvier?

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters