3 maande gelede
Streeptruie haal nie paal
Kolisi
John Dobson en Siya Kolisi ná Saterdag se wedstryd.  ~ Gallo Images

’N VERBROUDE aanvallende lynstaan in ’n kritieke stadium van die wedstryd en gebrekkige besluitneming het die Westelike Provinsie (WP) sy wedstryd teen die Bulls gekos.

Die besoekers was oor die naweek met 22-20 baas op Nuweland – al het hulle die grootste gedeelte van die tweede helfte met net 14 manne gespeel.

Die loskopstut Jacques van Rooyen is ’n omstrede rooi kaart gegee ná ’n gevaarlike skouerloop op Warrick Gelant.

Terwyl die Bulls groot karakter getoon het, kan die WP homself skop dat hy nie gewen het nie.

“Ons is baie teleurgesteld,” het ’n duidelik afgehaalde John Dobson (afrigter) ná die wedstryd op ’n virtuele mediakonferensie gesê.

“Dit is ’n groot prestasie deur die Bulls.

“Op 20-15 het ons ’n lynstaan  5 m van hul lyn af gekry en ons moes moontlik pale toe gegaan het om met twee scores voor te loop.

“Ons het die lynstaan verloor en (daarna) swak verdedig.

“As ek sê dit moes nie gebeur het nie, wil ek nie krediet van hulle wegneem nie. Hulle het nooit opgehou veg nie.”

Siya Kolisi (kaptein), wat ná sowat ’n uur se goeie spel vervang is, het toegegee ’n paar twyfelagtige besluite is geneem.

Gemis

“Ons moes daardie wedstryd gesink het. Ons is baie teleurgesteld.

“Ek dink van die besluite wat ons as spelers op die veld geneem het, was nie goed nie,” het Kolisi bygevoeg.

“Ek dink nie ons het besef waar die voordeel vir ons was nie. Ons het daar die punt gemis en ons as ’n leierskorps sal dit probeer regmaak.

“Ons moes die bal net by die voorspelers gehou het, want dit is waar ons die oorhand gehad het.

“Ek dink ons het ontspan en toe kom hulle regtig hard terug.

“Ons het ook soms nie by die plan gehou nie, veral nie aan die einde van die wedstryd nie,” het Kolisi bygevoeg.

Kolisi was nie op die veld toe daar besluit is om nie pale toe te gaan terwyl hulle met 20-15 voor was nie. Hy het wel hieroor gesê: “Jy weet nie of dit gaan oor wees nie. Wat ook al ons besluit, ons moet dit steun. Ek het nie geweet wat die besluit op die veld was nie.”

Steven Kitshoff was kaptein nadat Kolisi vervang is.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters