8 dae gelede
Stormers te sterk vir Lions op Nuweland
dan du plessis
Stormers se Dan du Plessis. FOTO: Ashley Vlotman/Gallo Images  ~ 

TWEE tweede helfte drieë deur hul senters het die Stormers Saterdagaand op 'n leë Nuweland instaat gestel om die Lions met 23-17 in hul Superrugby Unlocked-wedstryd te klop.

Die besoekers van Gauteng het teen die einde van die wedstryd verwoed aangeval en net desperate verdediging deur die Kapenaars het hulle uitgehou.

Dit was die Stormers se eerste wedstryd in die plaaslike toernooi na hulle in week een 'n loslootjie gehad het.

Die eerste helfte was hoofsaaklik 'n getjommel met die tuisspan wat net nie hul voete kon vind nie. Hulle het talle hanteerfoute begaan en het ook rigtingloos voorgekom.

Elton Jantjies en Damian Willemse het albei vroeg met strafskop pogings geslaag voor die Lions se haastige vleuel, Rabz Maxwane, gaan druk het, ná Jaco Kriel en Jantjies goed hanteer het aan die steelkant.

Die Leeus se buitesenter, Burger Odendaal, het kort daarna óók 'n draai agter die Stormers se doellyn gaan maak. Rasta Rashivenge (skeidsregter) het egter die TMO geraadpleeg wat 'n vorentoe aangeë van Kriel uitgewys het. Odendaal se drie is toe nie toegeken nie.

Die Stormers het Sergeal Petersen (regtervleuel) met rustyd verloor, met wat soos 'n beenbersering gelyk het. Die Lions was in daai stadium welverdiend met 10-9 voor.

Dit het die Stormers afrigter John Dobson gedwing om sy agterlyn te skommel. Willemse het na heelagter geskuif om Tim Swiel op losskakel te akkomodeer. Warrick Gelant het toe in Petersen se plek vleuel toe geskuif.

Willemse het na rustyd met nog 'n strafdoel geslaag voor Rikus Pretorius (binnesenter) se onderskepdrie die Stormers die eerste keer die voortou laat neem het. Sy sentermaat Dan du Plessis is oor na volgehoue druk deur die Stormers in die Lions se kwartgebied.

Net toe die Stormers gedink het hulle het die wedstryd in die sakkie het Jantjies teruggeslaan met 'n drie ná 'n breekslag deur Odendaal.

Willemse het sowat 5 minute voor die einde die kans gehad om die wedstryd te seal maar sy strafkoppoging was regs verby.

Die Lions het toe tent in die Stormers se gebied opgestel maar die tuisspan se verdediging het gehou.

Salmaan Moerat (slot) en Steven Kitshoff (loskopstut) was die Stormers se voorste spelers. 

puntemakers

STORMERS - drieë: Rikus Pretorius en Dan du Plessis; strafdoele: Damian Willemse (3); doelskoppe: Willemse (2)

LIONS - drieë: Rabz Maxwane en Elton Jantjies; strafdoele: Jantjies (1) en doelskoppe: Jantjies (2)

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters