12 dae gelede
Stormers soek 'n uitklophou
Dawie Snyman  ~ _Gallo Images

DIE Stormers beoog om alles op die veld te los wanneer hulle die Dragons môreaand in Newport in Wallis aandurf.

Die Kapenaars het tot dusver met aantreklike aanvallende spel in die United Rugby Championship vorendag gekom en ’n paar skouspelagtige drieë gedruk.

Hulle kon egter nog nie met ’n oorwinning uit die stryd tree nie.

Volgens Dawie Snyman, die aanvalsafrigter van die Stormers, sal hulle wil voortbou op hul puik aanvallende vertonings, maar hulle sal ook moet seker maak dat hulle die uitklophou plant.

Streef

“Ja, ons het ’n paar goeie drieë gedruk en great geleenthede geskep wanneer ons besit van die bal gehad het,” het Snyman in ’n aanlyn konferensie gesê.

“Ons streef daarna om dié naweek niks op die veld agter te laat nie.

“Dit is ons laaste toerwedstryd voor ’n lang pouse en ons het die oorwinning broodnodig.

“Ons verwag dat dit ’n moeilike stryd gaan wees, want dit is nooit maklik om na Newport te gaan nie. Hulle is ’n fisieke span wat baie goed op hul tuisveld is.

“Al is die weervoorspelling goed, is dit ’n laat wedstryd, so die veld se oppervlak sal waarskynlik ’n bietjie nat wees.

“Ons sal die fisiekheid van die Dragons hanteer en alle geleenthede aangryp wanneer dit ons kan toe kom.

“Die spelers verstaan ??wat ons wil doen en hoe ons wil speel. Ons gaan hulle die vryheid gee om op die veld te gaan en hulself uit te druk.”

Snyman glo dit gaan baie belangrik wees om takties aan te pas by die toestande.

“Ons gaan verskillende toestande in hierdie kompetisie ondervind, so, dit is vir ons belangrik om ’n goeie balans te kry.

“Ons beoog om opwindende rugby te speel en die bal wyd te versprei, maar ons moet ook die vermoë hê om meer direk te wees.

“Dit gaan daaroor om te kies watter manier ons gaan speel en om by die omstandighede aan te pas.

Momentum

“Sodra ons die balans regkry, dink ek ons gaan in ’n baie gevaarliker span ontwikkel, aangesien ons ook die vermoë het om onvoorspelbaar te wees met individue wat kan uitblink.

“Ons moet egter ook seker maak ons het sterk vaste fasette om die opposisie onder druk te plaas.

“Ons moet ook ’n manier vind om die momentum van die opposisie so gou moontlik te stuit.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters