6 dae gelede
Stormers se Corona-plan
John Dobson  ~ Gallo Images

MET die land wat van môre vir 21 dae weens die corona-virus gaan sluit, het die Stormer-breier, John Dobson, verduidelik hoe sy span in isolasie gaan voorberei.

Dobson sê sy spelers gaan van toerusting vir tuis-gimnasiums voorsien word.

Die spelers sal ook voortaan hulself met tegniese ontledings tydens die lockdown-periode besig hou.

Die Stormers se coach het gister in ’n video wat aan die media gestuur is, gesê: “Ons plan is nou om remote te werk te gaan. Ek dink ons gaan steeds ’n hoë gehalte handhaaf.

“Dit is basiese kondisioneringselemente.

“Ons gaan die ouens programme gee en toerus met gimnasiumtoerusting.

“Ons het ’n ongelooflike ooreenkoms met Virgin Active, wat die manne van tuis-toerusting voorsien,” het hy verduidelik.

“Ons gee hulle voedingsadvies en ons het verskillende tegniese uitdagings vir die spelers.

“Hulle sal moet self-analise doen waar hulle na ou wedstryde kyk en hulle vertonings ontleed.

“Ons sal ook na verskillende neigings in wêreldrugby kyk.

“Terselfdertyd sal hulle by ’n paar prettige uitdagings betrokke wees.

Stimulerend

“Hulle sal kyk na goed soos die ou wat die beste ete berei of die beste baard vir die week kweek.

“Ons moet terselfdertyd probeer om dit so professioneel en stimulerend moontlik te maak,” het Dobson bygevoeg.

Benewens ál dié aktiwiteite om hulle in die tydperk van isolasie besig te hou, sal die spelers wat met beserings sukkel die tyd wil gebruik om van hulle skete te herstel.

Hulle sal ook gehaltetyd met hulle gesinne wil deurbring.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters