13 dae gelede
Stoeiheld Voges sterf
Danie Voges  ~ Facebook

DIE voormalige Suid-Afrikaanse rofstoeiheld Danie Voges (67) is Sondag oorlede.

Die kragman was die laaste paar jaar weens beroerte aan ’n rolstoel gekluister.

Voges was as amateur ’n Springbok en nasionale kampioen. Ook as beroep­stoeier het hy die hoogste sport bereik: Hy het ná die uittrede van Jan Wilkens Suid-Afrika se swaargewigkampioen geword.

Hy het in die geldkryt groot naam gemaak en was veral as spanstoeier saam met sy groot vriend Danie Brits uiters gewild. Brits is einde verlede jaar oorlede.

Bloedigste

Voges het in 1978 die beroepskryt betree en in 1986 met Hans Booch in Kaapstad afgereken.

Dieselfde jaar het hy met die Mexikaan El Mongol afge­reken in een van die bloedigste gevegte in die geskiedenis van Suid-Afrikaanse rofstoei.

Kort daarna het Voges en Brits hul spanstoeigeveg teen Hans Roocks en John Powers gewen.

Voges was baie jare sinoniem met amateur- en beroep­stoei in Suid-Afrika. Hy laat ’n leemte wat nie maklik gevul sal word nie.

Voges was lid van ’n groep stoeiers van die promotor Bull Hefer wat op ’n dag per bus na ’n toernooi gereis het. Die bus was kort voor sy bestemming in ’n ongeluk. Voges het sy rug lelik beseer en daar is gevrees hy sou nie weer kon stoei nie.

Voges het egter groot durf gewys en sy loopbaan voortgesit.

Hy het in 1999 uitgetree.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters