2 maande gelede
Stick: Bokke se longe is vol
Mzwandile Stick het nog nie volle beheer oor die slypwerk van die Bokke se agterlyn nie. Foto: gallo images  ~ 

DIE Springbokke gaan Saterdag nie soos ’n klomp moegperde in Brisbane se Suncorp-stadion bontstaan nie.

  • Dít is die versekering wat Mzwandile Stick, hulpafrigter van die Suid-Afrikaanse span, gee voor die naweek se Rugby Cham­pionship en Nelson Mandela Challenge Plate-wedstryd teen Australië.

Moegheid was mos een van die redes wat verskaf is vir die Bokke se nederlaag teen Argentinië in Mendoza.

Die stutte Beast Mtawa­rira en Frans Malherbe moes sommer vroeg vervang word. Eben Etzebeth het ná sy Durban-terugkeer tot rugby ook nes ’n dooie firecracker­ gesjoerie.

Gelukkig vir die Bokke was daar darem ’n week af voordat hulle Sondag na Australië gevlieg het.

En Stick – wie se hand met die agterlynplanne deur Swys de Bruin vasgehou word – sê die manne is gereed om 80 minute se rugby te speel.

“Alles is so far so good,” het Stick gesê.

“Ons het goed ge-travel en Sondag hier in Bris­bane geland. Ons het reeds twee oefensessies agter die blad. Een daarvan was in die gym.

“Die intensiteit wat Swys na ons oefensessies bring, werk goed uit en ons kan nie gelukkiger wees nie.”

Volgens Stick is ook planne gemaak om aan te pas by die afskoptyd vir Saterdag se wedstryd.

Die Bokke kom 20:00 (12:00 SA tyd) teen die Wallabies te staan.

Stick meen dit is iets waaraan die Bokke gewoond moet raak, want in Suid-Afrika is hulle gewoond daaraan om in die middag te speel.

“Ons gym session gaan baie daarmee help en ons probeer ook om maar in die middag te oefen.

“Dit gaan ’n tough game wees, want Australië wil ook weer op die wenpad kom, maar ons fokus net op ons prosesse en plan.”

Die Bokke sal in Brisbane móét wen as hulle een hand op die Nelson Mandela Plate­ wil kry.

Die Wallabies – tien­­ma­lige wenners van die Plate – is sedert 2015 in besit van dié trofee.

Die Bokke kon dit nog net vyf keer wen, met die laaste kere in 2013 en 2014, toe Heyneke Meyer nog in charge was.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters