2 jaar gelede
Sterker én vinniger
Wayde van Niekerk en sy neef Cheslin Kolbe Dinsdagaand by die Waterfront in Kaapstad.  ~ Adnaan Mohamed

VINNIGER en sterker!

Só het Wayde van Niekerk aan Son gesê oor sy langverwagte terugkeer na die atletiekbaan.

Van Niekerk was Dinsdagaand by die Waterfront in Kaapstad by die bekendstelling van ’n dokumentêr oor sy lewe – 43.03.

Volgens die 25-jarige naelloop-sensasie is besluit om ’n fliek te maak om sy ongelooflike prestasie op die Olimpiese Spele in 2016 in Rio de Janeiro te vier.

Dít is toe hy die legen­dariese Michael Johnson se wêreldrekord in die 400 m vir mans verpletter het.

Van Niekerk het die goue medalje in ’n nuwe rekord van 43.03 sek. gewen.

Op 7 Oktober laas jaar het hy ’n kniebesering opgedoen tydens ’n raakrugbywedstryd op Nuweland.

Van Niekerk glo dié terugslag was deel van God se planne met hom.

Hy sê: “Die terugslag het gebeur, maar dit gaan beslis ’n beter persoon van my maak.

“Ek het geen twyfel dat my beste nog voorlê nie.

“My rehabilitasie is tans baie goed op dreef. Ek voel geestelik en fisiek baie goed. Dit gaan nou alles oor om na my liggaam te luister.

“Dit gaan baie geduld en harde werk verg, maar harde werk is nie vreemd vir my nie.

“Ek is vasberade om weer bo uit te kom. Dit is waar my hart en my benadering tans is.”

Hy gaan egter nie oorhaastig wees nie.

“Daar is nog ’n paar maande oor van my rehabilitasie. Ek het nog baie tyd aan my kant.

“My liggaam sal dikteer wanneer ek reg is. Ek gaan beslis na my liggaam luister. Daar is geen shortcuts nie.

“Ek sal net die proses respekteer en daarby hou.

Van Niekerk sê hy is geseën met ’n talent en gaan alles in sy vermoë doen om ál sy drome te verwesenlik.

“Ek beoog om reg te wees vir volgende jaar se wêreldbyeenkoms in Doha, Katar.

“Daarna is my doelwit om weer op my beste te wees vir die 2020 Spele in Tokio in Japan.

“ ’n Paar jaar gelede het baie mense gesê die rekord (van Michael Johnson) sal nooit gebreek word nie. As ek na ander mense se opinies geluister het, sou ek nooit dié rekord oortref het nie.”

Sy visier bly steeds ingestel om die 400 m in minder as 43 sek. af te lê.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters