27 dae gelede
Ster produk van 10 000
TYD VIR PUNTE: Nathan Nkutu druk ’n drie vir CPUT.  ~ Varsity Cup

TOE CPUT se ster-vleuel Nathan Nkutu laas Maandag as die speler van die wedstryd aangewys is, het die emosies behoorlik uit die vleuel geborrel tydens ’n televisieonderhoud ná die wedstryd.

En as ’n mens eers met Nkutu oor sy lewensreis gesels, maak dit skielik sin hoekom hy die oomblik so geniet het.

“Eerstens wil ek my dank betuig aan my Heer en Redder, Jesus Christus,” het hy in die TV-onderhoud gesê. “As jy weet wat my storie is, sal jy verstaan hoe baie dié vir my beteken. My storie is mal.

“My ma-hulle by die huis – hulle het nie eens ’n TV om vir my te kyk nie.

“Ek staan voor julle as een, maar ek kom as 10 000 – 10 000 mense het my grootgemaak en 10 000 het hul tyd en moeite in my belê.”

Getrek

Son het die 22-jarige Nkutu gekontak om meer oor sy lewensverhaal wys te raak.

“Ek is gebore in Kikwit in die Demokratiese Republiek van die Kongo, maar ons het vroeg na Suid-Afrika getrek.

“Toe ons egter hier kom, het dinge onmiddellik afdraand gegaan.

“My pa het ons verlaat en ons honger en alleen agtergelaat. Ek en my ma en my suster het swaargekry. Ons het nie kos, klere of elektrisiteit gehad nie. Ek en my suster moes soggens 04:00 opstaan sodat ons betyds by die skool kon kom.”

Asof dit nie genoeg was nie, was Nkutu ook ’n teiken vir boelies.

“Ek het net een skoolhemp gehad. My een skoen was stukkend en my sokkies vol gate.

“Ek het saans by die huis gekom en baiekeer honger gaan slaap. Ons het ook nie altyd ’n bad of stort of selfs net water gehad nie.

“Soms het ek as gevolg daarvan gestink en die kinders het my daaroor gespot.

“Hulle het egter nie my storie geken nie.”

Video

Nkutu is nou een van CPUT se sterre en het reeds die junior-spanne van die Leeus en WP verteenwoordig.

Hy het ’n video aan Son gestuur waar sy ma en suster sy wedstryd verlede week op ’n selfoon in die donkerte gekyk het.

Hulle was duidelik baie trots op die student in openbare administrasie.

Hy wil graag eendag hospitale bou in plekke waar mense dit die nodigste het.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters