STELLENBOSCH het sopas weer sy finansiële spiere gebult met die aanwins van nóg ’n buitelandse speler, Ibraheem Jabaar.
Die 18-jarige winger van Olisa FC in Nigerië word Steve Barker (afrigter) se negende nuwe besem tot dusver die seisoen.
Hy sluit hom aan by sy landgenoot Stanley Dimgba, wat ook relatief onlangs by Stellenbosch ingeval het.
Stellies gee in sy tweede seisoen in die Premierliga se top flight goeie rekenskap van homself.
Hy kort egter nog hier en daar ’n talentvolle speler om hom die volkome pakket te maak.
Hopelik is Jabaar die antwoord vir die span van Matieland, veral op die aanval, waar daar ongelukkig ’n gebrek aan doele is.
Jabaar was ook lid van die Golden Eagles-span wat in 2019 aan Fifa se o. 17-Wêreldbekertoernooi in Brasilië deelgeneem het.
Opgewonde
Stellies is so opgewonde oor sy nuwe aanwins hy het aangedui hy kan Jabaar straks al Vrydag teen Golden Arrows loslaat.
“Die klub is opgewonde oor die jong Nigeriër wat sy nuwe kontrak geteken het. Welkom, Ibraheem Jabaar,” het Stellies getwiet.
Barker het nou ’n hele paar foreign connections, soos Dimgba en die Argentyn Junior Mendieta, in sy arsenaal op die aanval.
Die baas van Stellies sal nou aan sy werkgewers moet bewys hy kan sy magic doen met sy klub se nuwe angels.
Vir hulle beteken sukses niks minder nie as ’n posisie onder die top-agt-spanne.