3 maande gelede
Stel toer uit – Div
Peter De Villiers  ~ Gallo Images

PETER de Villiers sê die Britse en Ierse Leeus-toetsreeks moet beslis in Suid-Afrika plaasvind.

Die voormalige Springbok-afrigter wat die Bokke in 2009 tot ’n reekssege oor die einste Leeus gelei het, vrees dat die toer ’n suiwer kommersiële oefening sal wees as dit na die Verenigde Koninkryk geskuif sou word.

Die Britse en Ierse Leeus se raad van agt lede het reeds vergaderings gehou om die lewensvatbaarheid van die Leeus se toer in Julie en Augustus in Suid-Afrika te bespreek.

Noodplanne

Dit kom te midde van kommer dat die games in Suid-Afrika dalk in leë stadions gespeel sal moet plaasvind weens die tweede vlaag van Covid-19.

“Die raad het nog nie finaal oor die toer besluit nie, maar die direksie van die Britse en Ierse Leeus het luidens berigte reeds noodplanne begin saamstel om die reeks in die Verenigde Koninkryk en Ierland aan te bied.

Die Springbokke kan moontlik die Leeus in Twickenham, Cardiff en Dublin aandurf. Provinsiale spanne soos die Sharks en Bulls kan in sokkerstadions soos St. James’­ Park in Newcastle en Villa Park in Birmingham speel.

De Villiers hoop dat rugbybase eerder besluit om die toer tot 2022 uit te stel.

Die Snorman skryf in die sosiale media: “Ek het bietjie teruggedink oor die Britse en Ierse Leeus se toer in Suid-Afrika in 2009 en die voortgesette bespreking oor waar en wanneer die 2021-toer sou plaasvind.

“Die Leeus-toer sal my altyd bybly as een van die grootste gebeurtenisse wat ek nóg in rugby beleef het, en dis nie bloot vanweë die uitslae nie.

“Terwyl die Leeus op toer in Suid-Afrika is, reis hulle die land deur. Hulle hou afrigtingsklinieke in gemeenskappe, skole en townships.

“Hulle vul stadions en pomp onmeetlike bedrae geld in ’n verlamde ekonomie. Ons kan in 2021 of 2022 nie bekostig om dié geld te verloor nie.

Vrees

“Ek weet van ’n groot getal Britse liefdadigheidsorganisasies en toeroperateurs wat geld skenk aan Suid-Afrikaanse liefdadigheidsorganisasies en projekte wat dit nie sal kan doen as hierdie toer nie hier in Suid-Afrika voortgaan nie.

“Die kans om ’n maatskaplike impak te hê in ’n land wat so desperaat daarvoor is, sal dus verlore gaan.

“My grootste vrees is dat as die toer na die VK skuif, sal hulle dit doen om borge te paai en kommersiële verpligtinge na te kom eerder as vir rugby­redes,” sê hy.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters