6 maande gelede
Staan op, ware Bulls!
VEG VIR PLEK: Burger Odendaal kry nou sterk teenstand van Dylan Sage. Foto: GALLO IMAGES  ~ 

DIS nou tyd vir die ware Bulls om op te staan.

Dís die pleidooi van fans nadat Pote Human se span géén van sy opwarmingswedstryde gewen het nie.

Met ’n feitlik volsterkte-span het die Bulls op Nuweland sy eerste losmaker teen die Storm­ers se naasbestes met 28-33 verloor. En Saterdag in Ballito het hulle met 7-7 teen die Sharks gelykop gespeel.

Met verskeie aanwinste en groot optimisme wat in Pretoria heers, breek die oomblik van waarheid Saterdag op Loftus Vers­feld teen die Stormers aan.

Dan sal die Bulls moet wys hulle is ’n veel beter span as wat die uitslae van die twee losmakers wil aandui.

Kenners sal egter onmiddellik daarop wys dat ’n mens nie veel in losmakers kan lees nie.

Om jou veldtog op ’n wennoot te begin is altyd ’n groot bonus en met die Bulls wat die tuisveldvoordeel geniet, sal daar geen verskoning wees vir die span wat met talle aanwinste spog nie.

Kies

Fans sien met groot verwagting uit na Human se beginspan.

Dit gaan interessant wees om te sien wie hy as Jesse Kriel se sentermaat gaan kies.

Burger Odendaal is die speler in die saal, maar Dylan Sage hamer ook aan die deur.

Op skrumskakel het Embrose Papier ook ’n spogvertoning teen die Sharks gelewer.

Gaan Human met Papier in sy beginspan afskop? Of gaan hy volhard met Ivan van Zyl en Papier as plaasvervanger?

Talle kenners meen dit gaan Papier se groot jaar wees.

Sy onvoorspelbaarheid en blitsige breekslae kan vorentoe vir die Bulls goud werd wees.

Die Stormers het ’n swak rekord weg van die huis en dis ’n faktor wat die Bulls deeglik sal moet uitbuit.

Om die Kapenaars uit die staanspoor onder druk te plaas kan die weg baan vir ’n oorwinning. Dít kan dalk net die grondslag wees vir ’n groot verbetering op verlede seisoen.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters