3 maande gelede
Staan bankvas agter ons, vra Bokke
Bokke
Die Springbokke soek jou ondersteuning.  ~ foto verskaf

DIE Springbokke het tydens die bekendstelling van hul #StrongerTogether-veldtog ‘n passievolle pleidooi aan Suid-Afrikaners gelewer om die span tydens die 2019-internasionale seisoen te ondersteun.

Die Bokke se seisoen skop volgende Saterdag af op Emirates-park in Johannesburg teen Australië.

Rassie Erasmus, direkteur van rugby, sê dit is belangrik vir die Springbokke om te weet hul land staan agter hulle. 

Erasmus sê hul werk as spelers en bestuur is om 'n wenspan te kweek wat mense bymekaar kan bring.

"Dié veldtog gaan nie net oor rugby nie, dit gaan oor 'n land," sê hy.

Siya Kolisi, die kaptein, sê die veldtog is om die publiek te kry om nie net hul span te ondersteun nie, maar hul land ook.

"Daar is miljoene hardwerkende, gewone mense wie se name ons nooit sal ken nie, wat vroeg opstaan om te doen wat nodig is om vir hul families te voorsien.

"Die veldtog is vir julle. Die taxibestuurder, die mynwerker, verpleegsters, dokters, onderwysers, ingeneurs en studente - doodgewone Suid-Afrikaners wat hul kant bring om die land beter te maak."

As deel van die veldtog gaan 'n aantal Suid-Afrikaners se gesigte op die spelers se jersey feature. 

As jy wil hê jou gesig moet op die groen en goud pronk, registreer hier as deel van die Faces on Numbers-veldtog wat tot en met die Wêreldbeker gaan loop.

Handré Pollard, die Springbok-losskakel, sê die eer om jou land te verteenwoordig is iets wat hy nooit ligtelik opneem nie.

"Elke keer as ek die trui oor my kop trek, weet ek dit kan my laaste wees. Dis hoekom ek my bes doen om eer aan die trui te bring. Wanneer ek wel die trui neersit, wil ek dit op 'n beter plek los vir die volgende losskakel om aan te trek."

Die losvoorspeler Duane Vermeulen sê hy het al vir baie spanne oor die wêreld gespeel en tot die besef gekom dat 'n span, wat vir 'n goeie ondersteuningsbasis speel, baie wedstryde wen.
 
“As Springbokke speel ons nie net vir mekaar nie, maar vir elke Suid-Afrikaner regoor die wêreld. Dit is nie die kleur van ons vel wat saak maak nie , maar die kleure wat ons dra. Ek hoop elke Suid-Afrikaner gaan hul truie met trots dra en bankvas agter ons staan. Dis wat ons #StrongerTogether maak.”
 
Die Bokke speel hul laaste toets, voor hulle na die Rugbywêreldbeker in Japan vertrek, op 17 Augustus teen Argentinië op Loftus Versfeld.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters