Verlede jaar
St. George’s nes familie wat omgee
Janine De Lange.  ~ Verskaf

ST. GEORGE’S kan as ’n baanbrekersklub beskou word.

Hy het sy eerste vroue-voorsitter ’n paar jaar gelede gekies. Die klub het geskiedenis gemaak toe Janine de Lange die eerste vrou word om beheer oor te neem.

De Lange bestuur ook St. George’s se jaarlikse Kersdag vir kinders suksesvol met die hulp van ’n groep vroue in die klub en gemeenskap.

Sy veg baie hard vir die klub se sukses.

Sy sê daar is uitdagings soos met elke gemeenskapsklub in ’n soortgelyke posisie wat hulle erger in die lockdown ervaar het.

“Die samesyn van die klub se supporters, players en amptenare ontbreek nou,” verduidelik De Lange aan Son.

“Ons het wel die veldligte ná ’n lang gesukkel aan die werk gekry, maar nou kan ons dit weens die lockdown nie eens geniet nie.”

Uitreik

St. George’s behartig sowat 18 sopkombuise in die omliggende areas soos onder meer Gustrouw, Rusthof en Broadlands Park. De Lange en kie werk hard, week in en uit, om die nodige bestanddele in te vorder sodat die mense gevoed kan word.

Daar is ook die uitdaging dat van die spelers wat nou werkloos is, na die klub uitreik vir hulp. De Lange voel net dat dit die klub se plig is om te kyk na die spelers.

“Dis ons kinders dié. St. George’s is vir my soos een groot familie. Dinge is nie altyd rooskleurig in ons gemeenskappe nie, maar ons doen wat ons kan met wat ons het. Ek glo nie daaraan dat mense moet honger ly nie.

“Dit maak my diep hartseer en dis hoekom ons hard werk – almal in die Lulu-familie – om seker te maak ons dien ons gemeenskap.”

Die Lulu’s vier in 2021 hul 80ste bestaansjaar en daar gaan beslis groot makietie gehou word.

“Ons beplan cele­brations­ wat die hele jaar gaan aanhou,” skerts sy.

“Ek wil graag hê dat almal moet inspring en help met die reëlings – spelers, spectators, amptenare en die breë gemeenskap self.

Betrokke

“Die birthday is almal s’n en ons gaan dit as ’n span­poging doen.”

  • Persone of besighede wat by die sopkombuise betrokke wil raak, is welkom om De Lange by 082 555 6437 te kontak.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters