6 dae gelede
Spyker in rekordkis
Usain Bolt  ~ Getty Images

DIE Olimpiese legende Usain Bolt meen tegnologiese vooruitgang in die vervaardiging van spykerskoene wat in die toekoms kan help om sy wêreldrekords te oortref, is belaglik en gee atlete ’n onregverdige voordeel bo diegene wat dit nié dra nie.

Nadat atlete in dié nuwe, veselbedekte diksool-skoene die laaste ruk verskeie langafstandrekords laat spat het, het dié tegnologie nou oorbeweeg na spykerskoene in die naellope. Die verwagting is dat dit selfs oor ’n kort afstand genoeg van ’n verskil sal maak om tye te verbeter.

“Toe ek daarvan hoor, kon ek nie glo dit is waarheen hulle mik nie en dat ons die spykerskoene gaan aanpas tot op ’n vlak waar dit atlete ’n voordeel gaan gee om selfs nóg vinniger te hardloop,” het Bolt gesê.

“Dit is vreemd en onregverdig vir baie atlete, want ek weet vervaardigers het dit al in die verlede probeer en die beheerliggaam (Wêreldatletiek) het toe gesê: ‘Nee, jy kan nie die spykerskoene verander nie.’ So, om te hoor dat hulle dit nou wil toelaat is lagwekkend,” meen Bolt. – Reuters

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters