16 dae gelede
Spurs lê aan op Sørloth
Alexander Sørloth  ~ Getty Images

TOTTENHAM Hotspur is in gesprekke met Trabzonspor om die dienste van sy doelemasjien Alexander Sørloth te bekom.

Ná Sondag se nederlaag van 0-1 teen Everton is Spurs se manager, José Mourinho, éérs gretig om ’n geskikte vennoot en back-up te kry vir sy talisman, Harry Kane.

Spurs word ook sterk gelink met Real Sociedad se Brasiliaanse striker Willian José.

Metz se striker Habib Diallo en Benfica se Carlos Vinicius is ook op Mourinho se inkopielys.

Die klub van Londen het intussen ook met sy visier aangelê op Torino se kaptein, Andrea Belotti, asook die Zambiër Patson Daka (Salzburg) en Pool Arkadiusz Milik (Napoli).

Die Daily Express berig dis egter die Noorse doelemasjien Sørloth wat op die randjie daarvan is om Spurs se eerste aanwins te word.

Dis nadat Trabzonspor se president, Ahmet Agaoglu, gesê het sy klub het reeds met Spurs onderhandel.

Die deal is ’n bietjie ingewikkeld omdat Sørloth aan die Turkse klub uitgeleen is deur Crystal Palace, Spurs se Londense buurspan.

Boonop is die Duitse span RB Leipzig, semi-finalis van die afgelope seisoen se Champions League, ook gretig om Sørloth se dienste op te raap.

Agaoglu het bevestig: “Sørloth wil aanbeweeg.

“Ons kan egter nie vir elke speler wat groener weivelde soek, net sê dis oukei nie.

“Leipzig stel belang en ons vergader met Tottenham.

“Ons sal egter doen wat in Trabzonspor se beste belang is.” AP

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters