9 dae gelede
Spoed nie Shilton se enigste skill
VANG DIE OOG: Shilton van Wyk maak naam in die SuperSport Rugby Challenge.foto verskaf  ~ 

DIE Boland-Kavaliers van Randall Modiba (hoofafrigter) speel vanjaar kookwater-rugby. Hulle is ná drie wedstryde in die SuperSport Challenge steeds onoorwonne.

Net die Westelike Provinsie (15) het meer punte as die Kavaliers (14) in die Suidelike konferensie van dié kompetisie.

Die Kavaliers se sukses kan hoofsaaklik toegeskryf word aan voorspelers wat gesag afdwing en goeie balbesit verskaf aan ’n jong, opwindende agterlyn.

Dawie­ Theron, voormalige afrigter van die Junior Springbokspan, help die Kavaliers se voorspelers afrig.

In die enjinkamer is gesoute manne soos Marlyn Williams (slot) en Tapiwa Tsomondo (flank) goed op dreef. Nuwe manne soos Wickus Groenewald (stut) en Adriaan Ludick (slot) het onmiddellik ’n goeie impak gemaak.

Die Kavaliers het vanjaar nog net twee drieë in die kompetisie afgestaan. Die span verdien lof vir die hegte verdedigingstruktuur wat hy in plek het.

Aangeslaan

Agter beheer Garrick Mattheus (losskakel) sake met sy kanonlinkervoet en uitstekende balverspreiding.

Dít stel spoedvrate soos Valen­tino Wellman en die belowende Shilton van Wyk (albei vleuels) in staat om die bal te kry

Van Wyk (19), van die Saldanha-rugbyklub, word in die Boland baie hoog aangeslaan. Saterdag teen Grens-Bulldogs het hy sy waarde onderstreep deur twee keer te gaan druk.

Hy het in verlede jaar se Super 8-toernooi in Saldanha op die scene gekom en almal laat regop sit met sy spoed, line breaks en stelskopwerk. Hy is toe welverdiend as speler van die toernooi gekroon.

“Shilton is ’n produk van ons elite-program. Daardeur bring ons spelers deur die klubstelsel om vir die Kavaliers te speel.

“Sy spoed is sy grootste bate, maar die feit dat hy kan side step, verdedigers aan die raai hou en kan tackle, maak ons baie opgewonde oor hom.

Voeg daarby dat hy ’n baie nederige jong man is en jy kan verstaan hoekom ons so liries raak oor hom,” het ’n opgewonde Modiba gesê.

Die Kavaliers kom Vrydag 15:00 in Durban teen die Sharks te staan en sal dan wys of hulle hul onoorwonne status kan behou.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters