2 maande gelede
Spoed is terug
SPOEDVRAAT: Die Kapenaar Antonio Alkana het in die 110 m-hekkies koning gekraai.  ~ Gallo Images

SUID-AFRIKA se twee voorste spoedvrate, Wayde van Niekerk en Akani Simbine, het hul staal in die eerste wed­lope van die seisoen op twee verskillende byeenkomste gewys.

Van Niekerk het Dinsdagaand op ’n byeenkoms in Potchefstroom met die louere in die 200 m weggestap.

Simbine het sy staal in Roodepoort gewys.

Van Niekerk, met die wind van voor (-1,5 m/s), het die 200 in 20,62 sekondes afgeblits.

Al is dié tyd van die 400 m-wêreldrekordhouer ver van sy loopbaan­beste van 19,84, is hy net gelukkig om terug op die baan te wees nadat hy lank weens ’n kniebesering buite aksie was.

Die 28-jarige hoop om sy titel in Julie en Augustus op die Olimpiese Spele in Tokio te verdedig.

“Ek moet die toestande aanvaar,” het Van Niekerk agterna gesê.

“Die wind was ’n bietjie sterk, maar dit was dieselfde vir ons almal en ek het dit aangeneem soos dit kom. Ek is happy en sien uit na die seisoen. Hopelik kan ek hierop voortbou en van krag tot krag gaan.”

Simbine het Dinsdag op Atletiek Suid-Afrika (ASA) se Athletix-uitnodigingsbyeenkoms die 100 m in net 10 sekondes afgeblits.

Die kampioen van die Statebondspele in 2018 het die sege in Roodepoort se Ruimsig-sta­dion behaal.

Die 27-jarige SA rekordhouer het hakskene vir Lu­xolo Adams (10,08) gewys. Duke Kuali en die Zimbab­wiër Ngoni Makusha (10,27) was saam in die derde plek oor die eindstreep.

Antonio Alkana (13,69) het in die 110 m-hekkies koning gekraai. Dié Kapenaar en huidige nasionale rekordhouer het klaargespeel met Tiaan Kleynhans (13,81) en die voormalige nasionale rekordhouer Ruan de Vries (14,07).

In die 400 m het die Johannesburgse tiener Lythe Pillay weer ’n indrukwekkende vertoning gelewer. Hy het tweede geëindig in 45,55. Die gunsteling Isaac Makwala (46,82) van Botswana het in ’n verrassende vierde plek klaargemaak. Sy landgenoot Ditiro Nzamani (45,27) het die wedloop gewen.

Louere

In die verspring vir mans het Cheswill Johnson (8,14 m) die aanslag van Divan Manuel (8,02) en Jovan van Vuuren (8,01) suksesvol afgeweer.

Boipelo Tshemese (11,45) het met die louere in die 100 m vir vroue weggestap.

In die spiesgooi vir vroue het Sunette Viljoen (58,00 m) haar klas gewys.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters