9 dae gelede
Spelers swak bestuur
RAW DEAL: Embrose Papier verdien ’n regverdige kans by die Bokke. Foto: Gallo Images  ~ 

DIE sukses van ’n rugby-afrigter hang af van sy vermoë om sy spelers doeltreffend te bestuur.

Rassie Erasmus het in Saterdag­ se nederlaag met 18-23 teen die Wallabies in Brisbane in dié opsig totaal in sy funksie misluk.

Die voormalige Bok-losvoorspeler het naam gemaak as ’n uitgeslape breier. Sy sterk punt was nog altyd sy tegniese kennis van die spel.

Dit is om dié rede dat hy voorheen as tegniese adviseur van die Bokke se afrigtingspanne opgetree het – eers onder Jake White en daarna ook Peter de Villiers.

Saterdag het Rassie in die toets teen die Aussies egter twee verdagte besluite geneem wat sy span duur te staan gekom het. Dit los ’n groot vraagteken ook sy vaardigheid as mensebestuurder.

Een groot besprekingspunt ná die toets was waarom hy Bongi Mbonambi ná sowat 35 minute vervang het.

Die haker het net voor dit ’n bal los bo-oor ’n lynstaan vyf meter van sy eie doellyn ingegooi. Dit het tot ’n drie op ’n skinkbord vir die Wallabies gelei.

Dis iets wat duidelik vooraf deur die afrigtingspan beplan is. Rassie moet self daarvoor pa staan, want so iets moet nooit op ’n rugbyveld gebeur nie – veral nie vyf meter van jou doellyn nie. So, dit was beslis nie Bongi se call nie.

Rassie was ook nie eerlik nie toe hy gesê het Bongi is afgehaal omdat sy tenk leeg was – en nie vir die lynstaan-blaps nie.

Dié verduideliking was belaglik veral omdat Erasmus al voorheen die Stormers se haker as een van die fiksste spelers in die Bok-span beskryf het.

Nee, dit lyk meer asof Rassie vir Malcolm Marx, wat as een van die wêreld se voorste hakers beskou word, so gou moontlik op die veld wou kry.

Rassie se besluit om die skrumskakel Faf de Klerk 80 minute op die veld te hou, het ook baie kritiek ontlok.

Al het Faf ’n nagmerrie agter die oond beleef, het die Bok-breier nie genoeg vertroue in die talentvolle plaasvervanger Embrose Papier­ gehad om hom vroeg aan te wend nie. Watter boodskap stuur dit aan spelers soos Mbonambi en Papier?

Nog ’n speler wat ’n absolute shocker gehad het, was Willie le Roux op heelagter.

Hy is ’n senior speler en het duidelik met sy peil gesukkel. Hy moes eintlik lank­al vervang gewees het.

In die nederlaag teen die Poemas in Mendoza het Willie ook lelik lyf weggesteek.

Net soos Faf, is Willie die hele 80 minute op die veld gehou en nie vervang nie.

Ek is jammer, maar na my mening maak dit nie saak hóé ervare en goed ’n speler is nie. Wanneer hy nie perform nie, moet hy plek maak vir iemand wat honger is om die job te doen.

Die Bokke pak die wêreldkampioen Saterdag in sy agterplaas.

Wat dink jy?

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters