14 dae gelede
Speel vir ons lewe
AJ MacGinty Foto’s: Getty Images  ~ 

WOENSDAG se World Cup-wedstryd tussen Argentinië en Amerika is allesbehalwe ’n dead rubber.

Die Poemas en die Yanks pak mekaar 06:28 SA tyd in die Kumagaya Stadion.

Vir die Poemas sal ’n tweede oorwinning in dié jaar se toernooi nie net ’n troosprys wees nie. Dit sal hulle kwalifisering vir 2023 se toernooi in Frankryk beklink.

Voortbestaan

Die Amerikaners soek ook outomatiese kwalifisering. Dus beskou hulle ook vandag se stryd as ’n battle om lewe en dood.

En nie net hulle eie lewe nie. Hulle voel hulle veg hier vir die voortbestaan van rugby in dié land.

Dekades al word Amerikaanse rugby as ’n sleeping giant beskou. In die korter weergawe, sewesrugby, is hulle reeds besig om ’n krag te word.

Maar in die 15-man-weergawe het die Yanks nog nie regtig opgang gemaak nie.

Dis nog ’n klein sport in Amerika. Die land het onlangs eers besluit om sy eie beroepsliga, Major League Rugby, op die been te bring.

Maar groter sportsoorte, soos American football, basketbal, yshokkie en selfs sokker laat min ruimte vir groei en bewusmaking van die spel.

“Al wat ons soek, is net één oorwinning – en dit sal baie beteken as dit in dié game gebeur,” het die losskakel AJ MacGinty gesê.

“As span sal dit vir ons groot wees. Dis die stempel wat ons wil afdruk op die legacy van Amerikaanse rugby en ontwikkeling.

“Ons het nog nooit derde in ’n groep geëindig nie. Dit dien as motivering,” sê MacGinty.

Die wedstryd teen die Poemas is Amerika se voorlaaste een. Hy sluit sy deelname Sondag af met ’n game teen Tonga.

Uitgedraf

Vir die Poemas is dié wedstryd ’n laaste hoera in Japan. Hulle sal ook die uittredende flank, Juan Manuel Leguizamón, die perfekte afskeid wil gee.

Leguizamón het voor Woensdag se game al 86 keer vir die Poemas uitgedraf.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters