Verlede jaar
Spanne sit en wag net vir groen lig
Spanne soos Wesbank wag vir die groen lig.  ~ Roswall de Vries

DIE organiseerders van die Wesbank-sewesrugbytoernooi hoop om weer van heinde en ver belangstelling te lok vir hul jaarlikse skouspel in Malmesbury.

Dié toernooi word al 11 jaar in Januarie in die Swartlandse dorp aangebied.

Die sperdatum vir spanne om in te skryf is reeds vroeg in Desember.

Die rugbyklub St. George’s van die Strand is die verdedigende kampioen.

In die eerste vier jaar dat die toernooi aangebied is, was Helderberg, onder die afrigting van Ricky Pietersen, onoorwonne.

Eduann Howburg, organiseerder van die toernooi, het aan Son gesê: “Aan die begin het net 12 klubs van onderskeidelik die Westelike Provinsie (WP) en die Boland aan die toernooi deelgeneem.

“Vandag ding klubs van Griekwas, die Blou Bulle en Namibië ook mee.

Borgskappe

“Die uitsluitlike doel van die toernooi is om vir die Wesbank-rugbyklub geld te genereer.

“In die Boland moet klubs ver reis om hul wedstrydbepalings na te kom.

“Benewens Wesbank is daar klubs en skole in Malmesbury wat op die sakekern van die dorp steun vir borgskappe.

“Jy moet ook jou eie geld probeer insamel.”

Die toernooi word in twee afdelings beslis.

In die Premier-afdeling ding 32 senior spanne mee wat in die voorste klubligas van hul unie deelneem.

In die Uitdaagbeker neem 24 spanne uit laer ligas deel.

“Die idee om die toernooi aan te bied het een Saterdagaand rondom ’n braaivleisvuur by my en my vriend die oudspeler Martin Lesch ontstaan.

“Daai Maandag het ons begin beplan en die bestuur van Wesbank oorreed om ons die groen lig te gee om met die reëlings te begin,” sê Howburg oor die ontstaan van die toernooi.

“Ons het toe met 12 klubs van die WP en die Boland begin en soos voorheen genoem, spanne van ander provinsies neem ook nou deel.

“Daar is altyd ’n groot vraag na plek in die toernooi.

“Spanne gaan in koshuise tuis en gastehuise is ook heel bekostigbaar vir besoekers.”

Wesbank het goeie jong sewesspelers, soos Dashston Wellman en Gerty le Fleur.

Howburg glo met ekstra skaafwerk kan hulle die sewesleer klim.

Die Wesbank-rugbyklub is in 1977 gestig toe drie klubs in die dorp – United, Rangers en Olympics – besluit het om kragte saam te snoer en een sterk klub in Malmesbury op die been te bring.

Gedy

Sterk leiers het die klub uit die staanspoor gelei.

Wyle Henry Lategan, voormalige voorsitter van die Wynland-rugbyunie, was 25 jaar in die voorsitterstoel. Hy was ’n groot voorstander van dissipline.

Spelers, ondersteuners en die bestuur het gedy onder sy leierskap.

Howburg sê: “Ander leiers wat die klub tot hoogtes gelei het, was manne soos wyle Johny Howburg, James­ Humphreys en Cupid Pietersen. Hulle het die klub bestuur as die eiendom van die gemeenskap.

“Wesbank het sy rugby onder die vaandel van die destydse SA Rugbyfederasie gespeel.

“Talle spelers van die klub het die Protea-baadjie oor hul skouers getrek.

“Manne soos Japie Liedeman, Attie Lategan, Humphreys en Bus Adonis het destyds die kern van die klub gevorm en is in die Protea-span opgeneem.

“Frank Larey (91), een van die stigterslede, is die oudste lid van die klub. Hy het jare in die bestuur ge­dien­ en sy kinders en kleinkinders is steeds by die klub betrokke.

Meeste

“Die Wynland- en Boland Liga-skrumskakel Randall Larey is sy seun. Albei woon die klub se vergaderings en wedstryde by.

“Saam met Randall het spelers soos Doppies Coetzee en Clifton Niemand in die 1990’s vir Wynland en Boland Liga gespeel.

“Randall het ook die meeste wedstryde vir die klub gespeel en ook seker die meeste provinsiale wedstryde vir die klub.

Eenwording

“Die klubspeler wat op die hoogste vlak gespeel het, is McNeil Hendricks, wat in die 1990’s ’n Springbok geword het.”

Op ’n vraag oor watter spanne hul vernaamste teenstanders op die veld was, sê Howburg dat Mamre voor eenwording en onder die afrigting van John Stubbs die klub se grootste teenstander in die Boland Liga was.

“Jy moet onthou, ons moes ver afstande reis om te gaan speel.

“In die Overberg het Caledonians – met Errol Tobias, die Benjamin-broers en Glen Aploon – ons nie wedstryde op skinkborde aangebied nie.

“Vandag sal ek sê in die Groot Uitdaagkompetisie van die Boland-Rugbyunie is Roses U­nited, Saldanha en Villagers Worcester die spanne wat ons harde bene op die veld laat kou.”

Die SA Rugbyunie het alle klubrugby tot die einde van die jaar gekanselleer.

Klubs sit dus oorgehaal en wag vir die aankondiging dat hulle kan inskryf vir die volgende Wesbank-Sewestoernooi.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters