19 dae gelede
Span brei uit
Shukri Conrad  ~ Gallo Images

KRIEKET Suid-Afrika (KSA) het gister die aanstelling van ’n rits afrigters bekend gemaak in die hoop om die spel in die land na die volgende vlak te vat.

Die Kapenaar Shukri Conrad is as die SA o. 19-afrigter aangestel.

Hy vervang Law­rence Maha­tlane, wat hom intussen by Uganda aangesluit het.

Die o. 19’s sukkel om die laaste paar jaar om hond haaraf te maak.

Aiden Markram (kaptein) en Ray Jennings (afrigter) se span van 2014 was die laaste suksesvolle o. 19-span.

Die Protea-superster Kagiso Rabada was een van daai span se staatmakers.

Neil McKenzie, die voormalige Protea-kolwer en -kolfafrigter, gaan voortaan as kolfkonsultant in KSA se strukture dien. Hy was tot onlangs nog Bangladesj se kolfafrigter.

Malibongwe Maketa is ná die Proteas se nagmerrie-Wêreldbeker-veldtog verlede jaar as hulpafrigter gepos.

Ná ’n paar maande in die wildernis is hy terug in die KSA-struktuur.

Hy is nou die SA A-afrigter en hy sal by die nasionale akademie betrokke wees.

Graeme Smith, KSA se direkteur van krieket, sê: “Malibongwe is baie lank reeds betrokke by Suid-Afrikaanse krieket.

“Ek dink hy is een van ons uitstekende afrigters. Ek was baie bly dat hy aansoek gedoen en sy naam in die hoed geplaas het.

“Met die span hoëprestasie-afrigters om hom het hy ’n werklike geleentheid om die pyplyn te versterk.

“Die ander ding van Malibongwe is dat hy ’n paar jaar by die nasionale span was én in die A-spanposisie gewerk het. Hy is nie net ’n baie goeie afrigter nie, hy is ’n goeie man, so ek is opgewonde daaroor dat hy die afdeling sal lei.”

Oor Conrad se aanstelling sê Smith: “Shukri is ook al lank betrokke by Suid-Afrikaanse krieket – op fran­chise-vlak in high performance en by die A-span.

“Ek hou van Shukri se styl; hy is old school. Hy is reguit en kry die werk gedoen. Op daardie vlak gaan sy afrigtings­kennis en kennis van die spel deurslaggewend wees.”

KSA se hoë prestasie-bestuurspan is:

Waarnemende hoof van krieketpyplyne: Edward Khoza

Suid-Afrika A en nasionale aka­demie: Malibo­ngwe Maketa

Hoofafrigter: SA o. 19 (mans): Shukri Conrad

Hoëprestasiebestuurder en boulkonsultant: Vincent Barnes

Kolfleier met hoë prestasie: Neil McKenzie

Hoofafrigter: SA o. 19 (vroue) en nasionale akademie (vroue): Dinesha Devnarain

Hoof- mediese beampte: dr. Shuaib Manjra

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters