2 jaar gelede
Southern Kings al goed op dreef
bly in Baai: Ricky Schroeder speel volgende jaar Superrugby. Foto: gallo images  ~ 

DIE Southern Kings is goed op dreef vir volgende jaar se Superrugby-toernooi nadat hulle aangekondig het dat hulle 12 nuwe spelers met kontrakte vasgepen het.

Charl Crous, bedryfshoof van die Kings, het aan Son bevestig dat hulle die spelers vir volgende jaar se toernooi vasgeteken het. Die spelers sluit aan by agt spelers wat reeds onder kontrak was met die Superrugby-span.

Onder die nuwe spelers is die meeste van hulle uit die groep wat die OP-Kings in die afgelope Curriebeker-reeks verteenwoordig het.

Soos Son voorspel het, is die kaptein van die Kings se spelersgroep, Ricky Schroeder, behou.

Hy het die span uitstekend gelei in baie moeilike omstandighede. Die Nami­biese heelagter Johann Tromp het ook beïndruk en het baie van die Kings se drieë gedruk.

Nog ’n speler wat ’n bate vir die Superspan is, is die losskakel, Pieter-Steyn de Wet. Hy het uitgeblink in die Kings se sukkel-seisoen en verdien om op Supervlak getoets te word.

Met die nuwe spelers het die Southern Kings nou 20 spelers in hul groep. Dit is egter net die helfte van wat benodig word. Malcolm Jaer, James Hall, CJ Velleman, Louis Fouché, Thembelani Bholi, Vleis Engelbrecht, Tyler Paul en ­Siyanda Grey is reeds gekontrakteer.

Crous het voorheen gesê hulle kyk na sowat 40 spelers vir Superrugby.

Die nuwe spelers is: Johann Tromp, Crysander Botha, Sampie Mastriet, Waylon Murray, Berton Klaasen, Pieter-Steyn de Wet, ­Ricky Schroeder, Cameron Lindsay, Schalk Ferreira, Justin Forwood, Mike Willemse, Martin Bezuidenhout.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters