4 dae gelede
Sorry, Vern... sê vuilbek Buttler
SKELGAT! Jos Buttler is paaltjiewagter terwyl Vernon Philander ’n aflewering op Nuweland inwag.  ~ Getty Images

JOS Buttler, Engeland se paaltjiewagter met die vuil bek, gaan vir Vernon Philander sorry sê oor sy vieslike uitlatings verlede Dinsdag op Nuweland.

Buttler het Big Vern geskel en gevloek en hom onder meer ’n “f*kk*n knopkop” genoem.

Die voorval het ná die teepouse gebeur op dag 5 van die tweede toets tussen die Proteas en die Pommies.

Philander het ’n bal van die wegbreekbouler Dom Bess na halfweg gedryf.

Die veldwerker het die bal teruggeslinger na die paaltjiewagter, wat omgekrap was omdat Philander nie uit die pad wou kom nie.

Die veelsydige ster van Ravensmead het natuurlik die volste reg gehad om te staan, aangesien hy nie sy kolfkampie verlaat het om ’n lopie te probeer voltooi nie.

Buttler het egter rooi gesien.

“Kom uit die f*kk*n pad uit,” het hy gesê terwyl hy die bal na Bess teruggegooi het.

“F*kk*n beweeg,” het hy voortgegaan terwyl hy Philander aangegluur het.

Philander het niks gesê nie en hom bloot terug aangegluur.

Buttler het voortgegaan met: “F*kk*n knopkop.”

Buttler sê egter nou: “Ek verstaan ten volle dat ons as rolmodelle ’n plig het om op ’n sekere manier op te tree.

“Ek wil om verskoning vra. Dis nie die regte manier om op tree nie. Ek vat my pak en ek verstaan dat ’n rol­model nie vuil taal só kan gebruik nie.

TV-kykers

“Ek sal my mond met seep uitwas. Dis was een van daai oomblikke. Ek het my kop vir 20 sekondes verloor. As ek vir Vernon sien, sal ek hom om verskoning vra.”

Buttler is gevra of die klank van die mikrofone agter die paaltjies na TV-kykers gemute moet word.

“Moontlik, ja,” het hy gesê. “Die paaltjiemikrofoon is nou al ’n ruk lank ’n debat: Of dit te alle tye moet aan wees of heeltemal af.

“Ek dink ons spelers wil dit af hê, en sodoende kan wat op die veld gebeur, op die veld bly.

“Dit beteken nie dinge moet handuit ruk nie. Vir TV-kykers is dit ’n beter ervaring. So, dis ’n moeilike een.”

Buttler is met 15% van sy wedstrydfooi beboet en een strafpunt vir sy f-woord tantrum gegee.

  • Die derde toets begin Donderdag in Port Elizabeth. Dit sal interessant wees om te sien hoe die Baaise skare Buttler gaan “groet”.
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters