8 dae gelede
Só naby, maar steeds tog só ver vir Cobras
GEBROKE: Die Cobras se Ziyaad Abrahams wys sy teleurstelling ná nóg ’n nederlaag.  ~ Gallo Images

DIE Cape Cobras is steeds segeloos in Krieket Suid-Afrika se T20-Uitdaagreeks.

Dít volg ondanks die feit dat hulle gister hul beste ver­toning tot dusver in die reeks gelewer het.

Ekstras, en meer spesifiek, ’n foutbal, het die span van sy eerste oorwinning beroof.

Ziyaad Abrahams is die onaangename taak gelaat om die laaste beurt te boul met die Knights wat 19 makeer het.

Abrahams het die beurt met twee skitterende streepballe begin en van die derde bal van Grant Mokoena ontslae geraak. Migael Pretorius het egter die volgende twee balle oor die grenstou geslaan wat beteken het dat die Knights vier van die laaste bal gekort het.

Abrahams het ’n streepbal geboul wat skadeloos na Kyle Verreynne deurgegaan het. Dit was egter ’n foutbal.

Pretorius het toe ’n free hit gehad wat hy deur middebaan vir vier geslaan het, ondanks ’n desperate poging deur George­ Linde.

Die teleurstelling op Tony de Zorzi (kaptein) en veral Abrahams se gesig was duidelik, maar die realiteit is dat ekstras, en veral wydlopers, die Kapenaars die wedstryd gekos het.

Die Cobras het ’n enorme 18 wydlopers (en Abrahams se foutbal) geboul.

Glans

Dit beteken hulle het meer as drie ekstra beurte aan die Knights geboul.

Die Knights het sodoende ’n addisionele 27 lopies “gratis” gekry.

Die nederlaag het ook die glans van Zubayr Hamza se terugkeer na peil verdof.

Hamza het sy eerste vyftigtal van die seisoen aangeteken en weer getoon hoe ’n goeie kolwer hy kan wees. Sy 77 het van net 49 balle gekom en 10 viere en 2 sesse ingesluit.

Sy vennootskap van 88 lopies met Verreynne (45 van 31 balle, 5x4 en 1x6) het die Cobras in staat gestel om ’n goeie 167/5 in hul 20 boulbeurte aan te teken nadat De Zorzi die loot gewen het.

Die Cobras was met die jaagtog heeltyd in beheer en sou voel dat hulle 19 lopies in die laaste beurt kon ver­dedig. Pretorius het egter ander planne gehad.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters