7 dae gelede
Smith: 'Geen kwade gevoelens tussen my en Makhaya'
AUSTRALIA, SYDNEY - 7 January 2009, South African
Graeme Smith en Makhaya Ntini in hul speeldae.  ~ Gallo Images

DAAR is geen kwade gevoelens of bad vibes tussen Makhaya Ntini en Graeme Smith nie.

Ntini het onlangs te kenne gegee dat hy dikwels “eensaam” gevoel het tydens sy roemryke loopbaan wat tussen 1998 en 2009 uit onder meer 101 vyfdagtoetse bestaan het.

Hy het ook dikwels verkies om na – en van die veld te draf pleks van om in die spanbus te ry.

“Ek was vir ewig eensaam,” het Ntini onlangs in ’n TV-onderhoud gebieg.

“Die eerste ding wat by my opkom as ek aan eensaamheid dink, is om nie iemand te het wat aan jou deur klop en sê: ‘kom, laat ons gaan eet nie’. Dit is eensaamheid. Jy sal kyk hoe vriende mekaar bel en dan planne voor jou maak en dan word jy oorgeslaan.

"As jy in ’n ontbytkamer instap - en jy is die eerste een daar - sou jy die volgende persoon sien wat binnekom, sal hy nooit langs jou kom sit nie. Dit is daardie eensaamheid. Ons speel in dieselfde span, oefen saam, boul vir hulle, dra dieselfde klere en sing dieselfde volkslied,” het Ntini aan die SABC gesê.

Smith het Saterdag die media tydens ’n digitale mediakonferensie te woord gestaan.

“Ek was baie verbaas (oor wat Makhaya gesê het). Ek het hom nooit as ’n stil mens gesien nie. Toe ek in (die Proteas) opset gekom het was Mackie al ’n senior speler.

"In gesprekke oor hoekom hy dikwels na- en van die veld gedraf het was sy verduidelikings destyds anders. Kultureel kan ek my indink die feit dat hy die enigste etniese swart speler was, dit moes natuurlik moeilik gewees het. Ek het waarskynlik destyds nie die bewustheid daaromtrent gehad nie. Ek weet dat Mackie se seun (Ntando) tans deur die sisteem kom en dis belangrik dat niemand weer so voel nie,” meen Smith.

Toe Son se verslaggewer Smith vra of daar enige kwade gevoelens tussen hom en Ntini bestaan, het Smith gesê: “Ek voel normaal met Mackie. Ons het ’n oop gesprek gehad. Ons het gedeel en geluister. Daar is sekerlik geen kwade gevoelens nie. Hy het goed saam my gedeel en ek met hom en ek dink dit is wat moet gebeur, so nee, daar is geen kwade gevoelens nie.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters