Verlede maand
Slegs wonderwerk kan AB’s keer
CHAMPS? Sam Cane se span het heel waarskynlik reeds die Drienasies-reeks gewen.  ~ Getty Images

DIE All Blacks het effektief reeds die Drienasies-titel beklink danksy hul bonuspunt-sege Saterdag in New­castle oor Argentinië.

Net ’n klein wonderwerk kan hulle nog keer.

Ian Foster se manne – onder intense druk ná twee agtereenvolgende nederlae – het met ’n oorwinning van 38-0 in hul laaste toets van die jaar wraak geneem op die Poemas.

Dit laat die All Blacks vyf punte voor bo-aan die Drienasies-punteleer, met twee oorwinnings en twee nederlae. Dit laat Argentinië en Australië met ’n haas onmoontlike taak as een van hulle die trofee wil wen.

Daar bly egter tegnies ’n wiskundige kans, hoewel ’n baie onwaarskynlike een, dat Argentinië of Australië steeds die Drienasies-reeks kan wen.

Die All Blacks se enorme punteverskil – danksy twee baie groot oorwinning in die twee wedstryde wat hulle wel in die kompetisie gewen het – tesame met drie belangrike bonuspunte, be­teken hulle sit met 11 punte gemaklik boaan die punteleer.

Eindig

Die punteverskil is ’n uiters­ indrukwekkende 64 punte.

Argentinië en Australië is albei op ses punte, maar hulle het negatiewe punteverskille.

Ingevolge die kompetisiereëls soos uiteengesit deur Sanzaar, die organiseerders van die Drienasies-reeks, kry die span wat die meeste oorwinnings in die reeks behaal, die eerste gelykbreekpunt as twee of meer spanne op gelyke kompetisiepunte eindig.

As die eerste “tie-breaker” nie ’n duidelike wenner oplewer nie, word die wenner bepaal deur die span met die meeste oorwinnings teen die ander span wat op dieselfde punte gelyk is.

Die derde gelykbreekpunt, en die een wat uiteindelik aan die einde van vanjaar se kompetisie sal saak maak, is punteverskil.

Argentinië en Australië het albei tot dusver nog net een nederlaag gely, maar het in elk van hul eerste drie wedstryde geen bonuspunte behaal nie.

Selfs ’n bonuspuntoorwinning vir een van die twee spanne in die laaste wedstryd van die kompetisie is miskien nie genoeg vir Argentinië of Australië nie.

Invloed

In werklikheid sal Argentinië ’n oorwinning van 93 punte oor die Wallabies benodig, terwyl Australië ’n massiewe oorwinning van 101 punte benodig. Albei uitslae is natuurlik hoogs onwaarskynlik.

Die All Blacks se eerste twee Bledisloebeker-toetse van die jaar teen die Wallabies was nie deel van die Drie Nasies nie en het geen invloed op die puntelys nie.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters