13 dae gelede
Skorsing wink...
Min. Nathi Mthethwa.  ~ Gallo Images

KRIEKET Suid-Afrika (KSA) loop die werklike gevaar dat Engeland se kriekettoer in Suid-Afrika aan die einde van die jaar nie gaan plaasvind nie.

Nathi Mthethwa, minister van sport, kuns en kultuur, het reeds wêreldkrieket se beheerliggaam, die Internasionale Krieketraad (IKR), ingelig van sy voornemens om by KSA se sake in te gryp aangesien die be­leër­de liggaam steeds sukkel om voor sy deur skoon te vee.

KSA loop gevolglik ook die gevaar dat die IKR hom as lidland skors. Die IKR duld nie politieke of regeringsinmenging by sy lede nie.

KSA is glo in gevorderde gesprekke met die Engelse Krieketraad oor witbalkrieketreekse in November en Desember tussen die Proteas en Engeland. Hierdie toer is egter ook nou in die gedrang. Nie net loop KSA die risiko om deur die IKR geskors te word nie – as die regering nie vandeesweek die ja-woord vir die toer gee nie, gaan dit nie ’n werklikheid word nie.

KSA gaan luidens berigte R75 miljoen verloor as die toer afgestel word.

Hy sal egter nou ’n haas uit die hoed moet pluk dat die voorgenome toer kan gebeur.

Mthethwa het vandeesweek briesend gereageer op ’n brief van KSA se waarnemende president, Beresford Williams. In die brief gee KSA Mthethwa en die regering eintlik maar die middelvinger.

KSA beskuldig Mthethwa daarvan dat hy onwettig opgetree het en sê hy sal weier om sy of Saskok se opdragte uit te voer.

Mthethwa het gister in ’n verklaring gesê: “Nadat ek die besprekings, sowel as die daaropvolgende verslagdoening hieroor, geëvalueer het, het ek nou ’n punt bereik waar ek geen waarde sien om my enigsins verder met KSA te bemoei nie.”

Billikheid

Daarna het die minister ’n kennisgewing aan die IKR uitgereik dat die regering nou regstreeks gaan ingryp by KSA se sake.

In die belang van billikheid het Mthethwa KSA tot 17:00 op 27 Oktober gegee om skriftelike vertoë te rig (as hy sou wou) oor waarom die minister nie sy besluit moet deurvoer om in te gryp nie, soos in die landswette bepaal.

Die bal is nou vierkant in KSA se baan.

Hier kom sports! Dalk net nie krieket nie ...

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters