Verlede maand
Siya soek sukses
VOORSPAN: Die Stormers se breier, John Dobson (links), en kaptein, Siya Kolisi, pose gister by ’n oefening in Bellville.  ~ Adnaan Mohamed

SIYA Kolisi hoop die Stormers kan dieselfde soort sukses in vanjaar se Superrugby-reeks behaal as wat sy gunsteling-sokkerklub, Liverpool, tans in die Engelse Premierliga ervaar.

Die Springbok-kaptein en John Dobson, afrigter van die Stormers, het gister die media op hulle eerste nuuskonferensie van die seisoen toegespreek.

Wen-kultuur

Kolisi het gepraat van die selfvertroue wat Suid-Afrika se World Cup-sege by hom en die res van sy Storm­er-spanmaats ingeboesem het.

Toe hy gevra is of hulle dieselfde soort wen-kultuur soos Liverpool na die Storm­ers kan bring, het hy gesê: “Ja, beslis! Die ervaring om Liverpool te gaan besoek, was amazing.

“Ek het Liverpool se man­ager, Jürgen Klopp, per ongeluk in ’n restaurant in Camps Bay ontmoet. Hy het my genooi om Anfield te kom besoek.

“Twee weke later was ek daar. Al die spelers het my langs die kant van die veld by die tonnel kom groet.

“Hulle sê hulle het almal die World Cup final tussen ons en Engeland gekyk.”

Kolisi sê Klopp volg verskillende sportsoorte, insluitend rugby.

“Ja, dis hoe hy as ’n coach leer en ver­beter,” sê Kolisi. “Ek glo ’n coach soos Dobbo is ook oop om soos hy te leer.”

Volgens Kolisi koop die spelers in op Klopp se planne en visie. By die Bokke was dit dieselfde met Rassie Erasmus (afrigter). Dieselfde geld nou met Dobson as die nuwe coach van die Stormers.

En met die Bokke wat die World Cup gewen het en die Stormers wat met die kern van die pak in hulle Superrugby-span sit, is die verwagtinge baie groot dat die Kapenaars vanjaar heelpad moet gaan.

Kolisi sê: “Ons sit met exciting backs en ’n sterk pak voorspelers. Ons wil uiteraard aantreklike rugby speel, maar die belangrikste ding gaan wees om eers seker te maak ons wen. Dit maak nie saak of dit lelike rugby is nie.

“Ons móét wen om die mense terug te lok na Nuweland. Ons almal is honger vir sukses. Hopelik gebeur dinge vanjaar vir ons.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters