12 dae gelede
Sir Curtly krap Universe Boss om
CHRIS GAYLE  ~ _GETTY IMAGES

CHRIS Gayle, krieket se self-proclaimed “Universe Boss” het sy misnoeë oor sir Curtly Ambrose, legendariese voormalige snelbouler van die Windies, uitgespreek.

Dít nadat Ambrose gesê het Gayle is nie ’n outomatiese keuse vir die Windies in die WB-toernooi nie.

“Ek praat oor Curtly Ambrose. Ek het hom baie gerespekteer toe ek by die Windies-span ingekom het,” het Gayle aan The Island Tea Morning Show op Winn FM St. Kitts gesê.

“Toe ek my pas by die span aangesluit het, het ek na hierdie man opgekyk. Maar ek praat nou uit my hart. Ek weet nie wat hy sedert sy uittrede teen Chris Gayle het nie,” sak Gayle af.

“Die negatiewe dinge wat hy in die media sê... Ek weet nie of hy aandag soek nie, maar hy kry die aandag, so ek gee net die aandag terug wat hy nodig het.

“Ek kan jou dit persoonlik vertel en jy kan hom laat weet dat Chris Gayle, die Universe Boss, hoegenaamd geen respek vir Curtly Ambrose het nie.”

Ondersteun

Gayle, wat lid was van die span wat in 2012 en 2016 die T20-Wêreldbeker gewen het, het bygevoeg as voormalige spelers aanhou om negatief te wees en nie die span ondersteun nie, gaan die Universe Boss ook minagting vir hulle hê. “Disrespekvol met woorde in hul gesig. Ek is klaar met Curtly Ambrose. Ek het geen respek nie, en elke keer as ek hom sien, sal ek ook vir hom sê: Hou op om negatief te wees, ondersteun die span voor die Wêreldbeker-toernooi. Die span is gekies en ons het spelers uit die verlede nodig om ons te ondersteun.”

Gayle het in sy laaste 16 ODI’s net 227 bygedra teen ’n gemiddeld van 17,46. Hy het net een 50 geslaan.

Ambrose het gesê: “Vir my is Gayle beslis nie ’n outomatiese keuse om te begin nie. As jy na sy prestasies in die afgelope 18 maande kyk, het hy nie net vir die Windies gesukkel nie, maar ook vir ander T20-franchises vir wie hy gespeel het.”

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters