13 dae gelede
Sidbury klop Rhodes
Sidbury: Grant Stone kolf.  ~ Foto Verskaf

DIE verdedigende kampioen van die Grahamstad Krieketraad (GKR), Eerste Liga Sidbury, het Rhodes Sondag oortuigend geklop.

Sidbury het met ag paaltjies geseëvier, asook ’n waardevolle bonuspunt verdien. Die GKR-liga is omtrent nou opwindend en loop op ’n spannende einde af.

Hierdie bonuspuntsege het Sidbury nou saam met Cuylerville as gesamentlike voor­loper bo-aan die punteleer geplaas.

Beide spanne staan nou op 55 ligapunte ná 14 wedstryde. Cuylerville het grootliks die posisie beklee gedurende die seisoen.

Sidbury het Sondag vinnig klaar gespeel met Rhodes. Rhodes het eerste gekolf en is vir 75 lopies ná 21.3 boulbeurte uitgeboul.

Greg Evans was die groot held met die bal vir Sidbury. Hy het vyf paaltjies ingeoes en is nou voor met 31 paaltjies. Evans het Marquin Loutz (27) verbygesteek.

Sidbury het vinnig in sy beurt die teiken behaal met 76/2 in 14.1 boulbeurte. Grant Stone (aanvangskolwer) was onoorwonne op 45.

Cliff Savage is ’n baie gelukkige man ná sy span se oorwinning. Hy is veral bly oor die bonuspunt wat op die regte tyd gekom het.

Uitgereën

Savage sê hy glo sy span het ’n kans om die liga te wen en hulle titel te verdedig.

Die laaste game van die seisoen oor twee weke tussen Cuylerville en Sidbury sal deurslaggewend wees.

Al die ander wedstryde het uitgereën en die spanne moes punte deel.

Intussen het Kenton die GKR Central Albany Tweede Liga gewen ná verlede week se reënval. Kenton het op 20 ligapunte geëindig, met Sidbury op 15 in die tweede plek.

GKR-bepalings:

Saterdag:

Rhodes t Sidbury; Southwell t Port Alfred; Manleys t Cuylerville; Rainbows t Shrews; Port Alfred se tweede span t Tiger Titans; Swallows t Early Birds; Cuylerville se tweede span t Manleys; Sidbury t Kenton; Salem t Southwell.

Sondag:

Willows t Makana Sona; Salem­ t Rhodes; Shrews t Station Hill.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters