5 dae gelede
Shamsi speel in The Hundred
TABRAIZ SHAMSI  ~ _GALLO IMAGES

TABRAIZ Shamsi, goëlbalbouler van die Proteas, se vuurwarm spelpeil het hom ’n kontrak besorg vir The Hundred, ’n nuwe krieketkompetisie wat gister in Engeland begin het.

Shamsi speel vandag nog vir die Proteas teen Ierland in Belfast en sal na verwagting daarna by sy nuwe span, die Oval Invincibles, aansluit.

The Hundred is ’n nuwe formaat van die spel – dit bestaan uit 15 tradisionele sesbal-boulbeurte. Die laaste boulbeurt bestaan egter uit 10 balle vir ’n totaal van 100 balle. Kapteins sal waarskynlik hul beste bouler vir dié finale aanslag gebruik.

Die toernooi, waarin agt mans- en agt vrouespanne deelneem, sou al verlede jaar die lig gesien het, maar Covid-19 het ’n stokkie daarvoor gesteek.

Die 31-jarige Shamsi vervang die Nepalese draaibouler Sandeep Lamichhane, wat weens probleme met sy visum nie meer aan die toernooi kan deelneem nie.

Dit bly ’n raaisel hoekom Shamsi nie in die eerste plek deur een van die spanne opgeraap is nie aangesien hy tans die wêreld se beste bouler in T20I’s is.

Draaiboulers is tradisioneel gesog in die korter weergawes van die spel.

Shamsi kan die bal na albei kante laat draai en is ’n bewese wedstrydwenner met die bal.

Daar heers groot opgewondenheid oor die toernooi, maar sommige kenners meen dit sal ’n stille dood sterf omdat daar nie veel verskil tussen dié nuwe formaat en T20-krieket is nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters