2 jaar gelede
Shabnim is die vinnigste vrouebouler
blits: Die Protea Shabnim Ismail is waarskynlik die vinnigste vrouebouler in wêreldkrieket. Foto: peter abrahams  ~ 

SPOED en Shabnim Ismail is sinoniem.

Sy praat vinnig. Sy hou van vinnige motors.

Ismail eet waarskynlik ook vinnig en sy boul vinnig, vinniger as enige ander vrou in wêreldkrieket as jy na haar luister.

Die vurige Protea het onlangs vir die Yorkshire ­Diamonds in Engeland se Superliga gespeel.

Sy het ook al vir die Melbourne Renegades in die vroue se Big Bash League diens gedoen.

Daar het die spoedmeter in Januarie in Melbourne aangedui Ismail boul teen 128 km/h.

Volgens haar wou sy nog altyd vinnig boul. Sy voel omdat sy klein gebou is, verras haar spoed die kolwers.

“Hulle verwag nie ek kan só vinnig boul nie. Dit is my taak in ’n span om vinnig te boul en paaltjies te neem,” het sy verduidelik.

Die voormalige Protea André Nel het ’n rol in Ismail se benadering gespeel.

“Sy aggressie op die veld en passie vir die spel was enorm. Ek het sy boulwerk bewonder.”

Veral in vrouekrieket is spoed alleen nie ’n waarborg vir sukses nie.

Ismail besef sy sal moet aanhou om haar vaardighede te verbeter en is daarom bly sy kry speelkans in Engeland.

“Dit gee jou ook kans om meer geld te verdien, hou jou belangstelling wakker en stel jou in staat om meer mense te ontmoet,” het sy gesê.

Hoewel sy die kanse om oorsee te speel sal aangryp, stel sy Suid-Afrika eerste.

Sy wil graag sien dat die Proteas ’n ware krag in vroue-krieket word.

“Ons begin toernooie gewoonlik sleg. Daarna moet ons te veel doen om in te haal,” het sy uitgewys hoe Suid-Afrika kan verbeter.

Ismail geniet die mengsel van kulture in die Suid-Afrikaanse span. “Ons het allerlei in ons span, maar almal gun mekaar ruimte en respekteer mekaar.”

Ismail is waarskynlik nie die gewildste vrouespeler by Krieket Suid-Afrika se hoofkwartier nie.

“Ek is eintlik maar ’n rebel. Ek hou daarvan om te sê wat ek dink.” – Cricinfo.com

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters