2 maande gelede
Ses Nasies: Wallis of Engeland?
Eddie JonesFoto: Getty Images  ~ 

AS SKOTLAND dié naweek in die Ses Nasies-kompetisie vir Wallis ’n massiewe guns wil bewys, sal hy geskiedenis op Twickenham moet maak.

Dis omdat die Skotse rugbyspan sedert 1983 nog nie ’n Ses Nasies-wedstryd teen Engeland op Twickenham gewen het nie.

Engeland strewe na ’n bonuspunt-sege om verby die onoorwonne Wallis te glip in die wedloop om die Ses Nasies-kroon.

Wallis kom môre tuis in Cardiff teen Ierland te staan en hy móét eenvoudig wen om die Ses Nasies-titel te verower.

Intussen is Engeland se afrigter, Eddie Jones, maar katvoet vir môre se kragmeting met die Skotte.

Jones sê: “Skotland is ’n moeilike span. Die spelers is in ’n mens se gesig.

Vaart

“Hulle is begeesterd en produktief en hulle spog met verskeie aanvallende opsies.

“Finn Russell (losskakel) is ’n uitstaande speler en die vleuels het vaart. So, ons sal ons ver­dediging moet ken.”

Skotland is desperaat, aangesien hy dié jaar in die Ses Nasies nog net een wedstryd gewen het.

Dít was in ’n tuis­wedstryd teen Italië, wat ál sy wedstryde verloor het.

Jones meen ook die Ses Nasies-owerheid moet dit oorweeg om ’n relegasie­reël te skep.

Hy stel voor die span wat laaste eindig, moet deur ’n ander ontluikende span, soos Georgië­, vervang word.

  • Ses Nasies-wedstryde môre: 14:30 – Italië t Frankryk (Stadio Olympico); 16:45 – Wallis t Ierland (Principality-sta­dion); 19:00 – Engeland t Skotland (Twickenham).
Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters