5 dae gelede
Sege is vir Solskjær
Jadon Sancho  ~ Getty Images

MICHAEL Carrick, waarnemende manager van Manchester United, sê die oorwinning met 2-0 oor Villarreal in die Champions League gaan nie oor hom nie.

Volgens hom gaan dit meer oor die span.

Carrick is as die interim-bestuurder aangestel nadat Ole Gunnar Solskjær, saam met wie hy die afgelope drie jaar gewerk het, Sondag die trekpas gekry het.

Volgens Carrick is die sege ’n massiewe boost vir die spelers ná hul teleurstellende vertonings en uitslae die vorige paar wedstryde.

Doele deur Cristiano Ronaldo en Jadon Sancho het die Red Devils hul eerste sege in vier wedstryde in alle kompetisies in die sak gebring.

Belangriker nog, dit het die rekord 13-malige Engelse kampioen se plek in die ronde van 16 in die kompetisie verseker.

“Die sege gaan glad nie oor my nie,” het Carrick, wat tussen 2006 en 2018 in 316 wedstryde vir United gespeel het, gesê.

“Ek het ’n verantwoordelikheid om hier te wees en ek is baie trots daarop,” het hy bygevoeg.

United se tekortkominge was weer duidelik sigbaar teen die Yellow Submarine.

Die United-doelwagter, David de Gea, was gelukkig weer op sy beste en het met briljante keerwerk seker gemaak sy span bly in die prentjie.

Carrick was baie tevrede met sy span se vertoning.

“Ek het dit baie geniet, die hele ding, die ondersteuning wat ek gehad het, was ongelooflik.

“Dit was nie ’n maklike paar dae vir enigiemand by die klub nie.

“Dié uitslag voel amper asof dit vir Ole is. Ek kan nie daarvan wegkom nie.

“Ons het ’n job gehad om te doen en dinge moes versorg word. Ek was bly om dit te doen en gelukkig het alles volgens plan verloop.” het Carrick gesê.

Nou wag ’n moeilike ligastryd teen Chelsea. – AP

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters