13 dae gelede
Scorpions steek seer
CHAMPS: Die Scorpions is die wenners.  ~ Foto Verskaf

DRIE maal is skeepsreg vir die Victoria Park Scorpions toe dié span Saterdag as 2019 se Queenstown 10’s-kampioen gekroon is.

Die Scorpions het die Crusaders voor duisende opgewonde toeskouers met 12-0 geklop in dié dorp se bekende Thobi Kula Sta­dion.

Die Scorpions-kaptein, Deveron Loutz, sê hy is vreeslik trots op sy span ná die toernooi.

“Dit was ons derde agtereenvolgende eindstryd en ons het dit dié keer gewen. So, ek is baie bly en trots op almal betrokke by die Scorpions,” sê Loutz.

Hy sê die toernooi het selfs spanne van die Kaap en Joburg gehad en dit het hoëgehalte-rugby opgelewer.

“Dit was ’n baie goeie toernooi. Almal het dit geniet en ek kan nie wag vir volgende jaar se toernooi nie.

“Al die spanne van oral het dit baie spesiaal gemaak en ek hoop ons kan net aanhou groei.”

Die organiseerder, Maxwell Levine, sê die Scorpions verdien die oorwinning.

“Die Scorpions kon net niks verkeerd doen op die dag nie.

“Hulle was bloot in hulle eie liga en selfs die opposisie se ondersteuners kon nie anders as om die soort rugby te bewonder wat hulle vertoon het nie.

“Hulle het eenvoudig elke opponent van die veld af gehardloop met hulle aanvallende spel, tempo en flair,” sê Levine.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters