6 maande gelede
Sakebaas nog onbekend
Bongi Mbonambi  ~ Gallo Images

DIT is nou al bykans ’n jaar sedert Paul Zacks die posisie as uitvoerende hoof van die Westelike Provinsie Rugbyunie (WPRU) se sakevleuel,Westelike Provinsie Professionele Rugby (WPPR), ontruim het.

Baie het gehoop WPPR sou vroeg in die nuwe jaar ’n besluit neem oor watter rigting daar ingeslaan sal word om ’n nuwe sakehoof te kies.

Dit is nog onduidelik of die sakevleuel gaan besluit om die pos van uitvoerende hoof te adverteer of soos in die geval van die Lions, Sharks en Bulls eerder die perfekte persoon vir dié rol te gaan soek.

Die take van die uitvoerende hoof word tans deur die unie-president, Zelt Marais, WPRU- en WPPR-raadslid Peter Jooste, Ebrahim Rasool (WPPR-voorsitter) en bekende sakeman Solly Moeng behartig.

Dié vier het tans ’n groot taak op hande: om te verseker dat ’n uittog van sterspelers nie plaasvind nie.

Skuif

Luidens ’n WPPR-verklaring in Desember sal ’n aanstelling in Januarie gemaak word, maar niemand kon Son gister duidelikheid gee toe ons wou uitpluis hoe die proses vir die aanstelling van ’n sakehoof sal geskied nie.

Son het intussen verneem Bongi Mbonambi, die WP se Springbokhaker, word weer met ’n skuif na die Bulls gekoppel. Dít terwyl daar oor die naweek wyd berig is dat Siya Kolisi hom dalk ná Junie by die Sharks gaan aansluit. Die Springbokstut Frans Malherbe wil na bewering ook in Durban sy loopbaan voortsit.

Volgens Son se bron maak die gerugte oor spelers wat wil loop borge onrustig. Borge kan nie insien hoe hulle die span geldelik kan steun as daar dan geen Springbokke of bekende spelers in die WP se geledere pryk nie.

Die regstryd met die Flyt Property Group (wat skadevergoeding eis nadat die WPRU besluit het om kop uit te trek uit ’n ontwikkelingsooreenkoms) hang ook nog soos ’n swaard oor die kop van die unie se besluitnemers.

Dit sal ook onderhandelinge met spelers oor nuwe kontrakte bemoeilik, want Flyt eis ’n massiewe R500 miljoen.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters