5 maande gelede
Safa kry troospryse ná Afrika-bod misluk
vereer: Desiree Ellis, coach van SA se vroue, het een van die troostoekennings ontvang. Foto’s: gallo images  ~ 

SUID-AFRIKA het dit nou wel nie reggekry om dié jaar se Afrikabeker-toernooi aan te bied nie, maar daar was darem twee troospryse.

Desiree Ellis, afrigter van die Suid-Afrikaanse vrouesokkerspan, is deur die kontinent se beheerliggaam, die CAF, as Afrika se beste vroueafrigter vir 2018 aangewys.

Thembi Kgatlana, vlymskerp Banyana Banyana-doelskieter, is as Afrika se beste vrouespeler vir 2018 aangewys.

Onder Ellis se breierskap het Banyana Banyana laas jaar vir die eerste keer in die span se geskiedenis vir die Wêreldbeker-toernooi vir vroue gekwalifiseer.

thembi kgatlana

Kgatlana het slegs die tweede SA vrou geword wat aangewys is as die CAF se beste vrouespeler.

Noko Matlou het dié toekenning in 2008 gewen.

Intussen is Egipte se sterspeler Mohamed Salah ’n tweede jaar agtereenvolgens aangewys as die beste man­speler.

Salah speel sy klubsokker in Engeland vir Liverpool en was ook op die kortlys vir Fifa se speler van die jaar, sowel as die bekende Ballon d’Or-toekenning.

Inmenging

mo salah

Salah se doel in die Champions League is ook deur Fifa as die beste doel van 2018 aangewys.

Intussen het Danny Jordaan, die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging (Safa) se president, politieke inmenging as die rede gegee hoekom die Afrikabeker-toernooi in Egipte aangebied sal word.

Suid-Afrika is as die guns­teling beskou om die toernooi aan te bied, maar toe daar Dinsdag gestem is, het Egipte 16 regmerkies gekry.

Daar was net een regmerkie vir Suid-Afrika.

Dit sal die vyfde keer wees dat Egipte hierdie toernooi aanbied. Suid-Afrika het die Afrikabeker-toernooi in 1996 en 2013 aangebied.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters