9 dae gelede
Safa CT duld g’n rassisme
Bennett Bailey  ~ Backpagepix

DAAR is geen plek vir rassisme in sokker nie.

Dít is die boodskap van Bennett Bailey, president van Safa Cape Town, aan die Kaapse sokkerpubliek en die breë samelewing.

Bailey sê dis belangrik dat rassisme gehanteer moet word. Hy het gister aan Son gesê: “Ons gaan deur ’n bad tyd waarin rassisme hoog op die agenda is.

Vierkamer-stelsel

“Dis belangrik dat ons moet onthou waarvoor ons destyds gefight het en waarvandaan ons kom.

“Onthou jy nog die vier-kamer-stelsel? Daar was destyds sokker vir Kleurlinge, Bantus, Indians en wittes.

“Daar is vandag nog individue tussen ons wat nie regtig die Rubicon gecross het nie.

“Hulle dink nog altyd in compartments – 26 jaar ná demokrasie. Dis belangrik dat ons dit nie onder mat vee nie.”

Bailey se woorde volg nadat klagtes van rassisme in een van hul LFA’s, Cape Town Tygerberg, kop uit­gesteek het.

John Ross, dié unie se voorsitter van skeidsregters, het na bewering op Facebook gesê hy weet nie waarom ’n bohaai oor die “White Lives Matter – Burnley” banner gemaak word nie.

Ross verwys na die voorval waarin ’n vliegtuig met dié banner oor die Etihad-stadion gevlieg het.

Dit was laas week gedurende Manchester City en Burnley se Engelse Premierliga game.

Burnley het hom daarvan gedistansieer.

Die voorval spruit uit die omstredenheid rondom die Amerikaner George Floyd se dood, waarna die “Black Lives Matter”-beweging stukrag gekry het.

Floyd het versmoor toe ’n wit polisieman met sy knie op sy nek gehurk het.

In solidariteit met dié voorval het die EPL die woorde “Black Lives Matter” agterop al die klubs se truie toegelaat.

Ross, wat ’n polisieman tydens apartheid was, het gepost: “Het die wêreld mal geword? So, Manchester City en Burnley speel op die Etihad. Al die spelers dra ‘Black Lives Matter’ logo’s en kniel ter ondersteuning.

“Dan vlieg iemand oor met ’n ‘White Lives Matter’-banier en dit ontstel Burnley. As ’n elite-speler geweier het om die logo te dra, sou hy beswadder geword het. So, die EPL glo wit lewens is afstootlik.”

Reënboognasie

Die post is verwyder nadat Safa CT dit in ’n verklaring as uiters rassisties bestempel het.

Safa CT sê hy “sien nie kleur nie, maar ’n Reënboognasie wat almal deur een lens moet kyk”.

Bailey het die voorsitter van CT Tygerberg en adjunk-president van Safa, Andrew Bothman, ’n mandaat gegee om die saak te ondersoek. Hy verwag terugvoer teen Vrydag.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters