Verlede maand
Saders kom wéér weg met moord
Joe Moody  ~ Getty Images

DIE Canterbury Crusaders is dalk wéér ’n bietjie voorgetrek in verlede naweek se openingswedstryd van Superrugby Aotearoa.

Ben O’Keefe, skeidsregter in dié wedstryd tussen die Otago Highlanders en die Crusaders in Dunedin, het te kenne gegee hy het dalk vroeg in die kragmeting ’n fout begaan.

Dít toe hy besluit het om net ’n strafskop teen die Crusaders toe te ken nadat beeldmateriaal gewys het hoe Joe Moody ’n Highlanders-speler met die voorarm in die gesig slaan.

Luidens Wêreldrugby se reëlboek mag ’n speler nie ’n ander speler mondelings of fisiek aanrand nie. Fisiek aanrand sluit onder meer in dinge soos byt, vuisslaan, kontak met die oë of area rondom die oog, slaan met enige deel van die arm (insluitend stywe-arm-duikslae), skouer, kop of knie, trap, pootjie of skop.

Volgens O’Keefe was Moody se oortreding ’n geelkaart werd.

Sommige sal egter voel die Saders-stut moes eintlik rooi gesien het.

Oomblik

O’Keefe het sy besluit om net ’n strafskop aan die Highlanders te gee, só verduidelik: “Ons het ná die voorval in ons hersieningsvergadering gekyk en almal het gevoel Joe Moody moes met ’n geelkaart gestraf word. Daar is ’n standaard wat ons wil stel, waar as jy iets opsetlik gaan doen, jy met ’n geelkaart gestraf moet word.

“Ek was die skeidsregter in daai wedstryd en in daai oomblik het ek ’n besluit geneem wat ek gevoel het was korrek deur ’n strafskop te gee, met albei kapteins te gesels en die gemoedere te kalmeer en rugby te speel.

“Die hersiening het aangedui hy moes 10 minute op die kantlyn gaan sit het. As ’n groep skeidsregters sal ons hieruit kan leer en as dít die standaarde gaan wees, dan gaan daar spelers wees wat met ’n geelkaart gestraf sal word.”

Die Crusaders het uiteindelik die Highlanders met 26-13 geklop, maar dinge kon dalk net anders gewees het as O’Keefe daardie spesifieke beslissing korrek kon gehad het.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters