13 dae gelede
SA spanne vat flak oor vervelige rugby
NICK MALLETTFoto: GALLO IMAGES  ~ 

SUID-AFRIKA se Super Rugby Unlocked- en Curriebeker-kompetisies het volgens twee bekende afrigters vir vervelige rugby gesorg.

Nick Mallett, eertydse Springbokafrigter, en Swys de Bruin, voormalige Lions-breier, het op Sondag se SuperSport-program The Final Whistle hul ontevredenheid oor die gehalte van die rugby uitgespreek.

Mallett het gesê: “Dit is moeilik om nie negatief te raak oor die vertonings van ons spanne nie. Vergelyk dit nou met wat Nieu-Seeland opgedis het in die Aotearoa-kompetisie – met spanne wat vir vinnige balverspreiding vanaf losgemale gesorg het en ook die bal rondgegooi het.

“Daar was wedstryde wat redelik hoë tellings opge­lewer het, maar daar was ook uitstekende verdediging tesame met goeie aanvalswerk. Dit was rugby wat jy wou kyk.”

Volgens hom is dit so dat fiksheid ’n probleem vir SA spanne sou wees gegewe hoe laat in die jaar hulle die spel sou hervat.

“Daar was stryde waarin baie foute gemaak is en dit het gelyk asof elke span Wêreldbeker-taktiek inspan. Sodra dinge taai raak, is daar teruggeval op rolmale, strafskoppe van skrums verdien en hoë hangskoppe deur 9 en 10 vir die hele wedstryd. Dít sorg nie vir goeie kykgenot nie,” het Mallett gesê.

In sy opsomming het De Bruin gesê: “Dis amper soos ’n storieboek. Ek kan al sien daar kom ’n skrum wat heeltyd hervat moet word, dan die voordeel en dan die volgende hoofstuk – ’n strafskop.

“Van daar af word daar gerolmaal. Voor die rolmaal word daar kajuitraad gehou onder die voorspelers om meer tyd te mors. Dan kom die lynstaan, maar voor dit loop die skeidsregter eers op en af deur die lynstaan.

“Wanneer die bal eindelik ingegooi word, moet jy jou regmaak om te sien wie waar gaan aansluit by die rolmaal, wie dit sal probeer aftrek of iemand se bene oplig ... Vir my is dít die verhaal.”

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters