Verlede maand
SA o. 19-kaptein optimisties oor WC
Bryce Parsons  ~ Backpagepix

ONDANKS ’n paar swak vertonings in hulle laaste paar wedstryde reken die kaptein van Suid-Afrika se o. 19-krieketspan, Bryce Parsons, dat hulle goed genoeg is om die o. 19-Wêreldbeker te wen.

Die ICC u. 19 ODI Cricket World Cup (WC) begin Vrydag in Potchefstroom en duur tot 9 Februarie.

Die SA kaptein dink hulle is een van die gunstelinge, veral danksy tuisvoordeel.

Parsons het hom soos volg uitgelaat: “Sommige sê dis meer druk omdat ons tuis speel, maar ons beskou die druk as eer.

“Sonder druk sou nie een van ons die kans gehad het om ons land te verteenwoordig nie, maar ons wil natuurlik die land en ons families en vriende trots maak deur ons beste te doen en die titel te wen.”

Parsons se spelpeil was uitstekend in die span se afgelope vierhoekige reeks.

Hy het drie agtereenvolgende 50-talle gemoker. SA het wel in die eindstryd teen nog ’n WC-gunsteling, Indië, vasgeval.

Die span het ook in sy eerste opwarmingswedstryd teen Sri Lanka Sondag in Soweto met 15 lopies verloor.

Parsons sê: “Ons sukkel ’n bietjie, maar ek dink net dis weens ’n paar verkeerde besluite, en ons werk daaraan.

Ken

“Ons het die laaste tyd baie krieket gespeel en ek moet sê ons het baie geleer en is besig om alles toe te pas in elke wedstryd.”

In Odirile Modimokwane en Khanya Cotani het die span twee spelers wat Potch goed ken, en Parsons is van mening dat dit net kan help.

Hy sê: “Odi ken die veld en sy draaiboulwerk gaan baie belangrik wees vir ons. Khanya is net so vertroud met dié velde, maar ek voel Potch is ’n goeie plek vir ons SA span se krieket in die geheel.

“Almal hou van die velde en die meeste van ons het al reeds ’n paar keer daar gespeel.”

Die span speel vandag in Pretoria teen Nigerië in nog ’n opwarmingswedstryd.

Parsons sê ná die nederlaag wil hulle dinge in dié wedstryd regstel.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters