8 dae gelede
SA maak skoonskip
Bjorn Fortuin  ~ Gallo Images

SKOONSKIP!

Die Proteas het met nog ’n goeie vertoning Dinsdag hul T20-reeks teen Sri Lanka met 3-0 beklink.

Suid-Afrika, met Ke­shav Maharaj as kaptein, het die derde en laaste wedstryd in dié reeks in Colombo met 10 paaltjies gewen.

Die tuisspan het die loot gewen, maar kon net 120/8 in sy 20 beurte aanteken.

Kusal Perera (39 van 33 balle) was die enigste kolwer wat hond haaraf kon maak teen die Proteas-boulaanval.

Bjorn Fortuin (2/21) en Kagiso Rabada (2/23) was die besoekers se beste boulers.

Suid-Afrika het in die jaagtog min moeite ondervind en die teiken bereik sonder die verlies van ’n paaltjie én met 32 balle oor in sy kolfbeurt.

Quinton de Kock (59* van 46 balle) en Reeza Hendricks (56* van 42) het Sri Lanka se boulers uit die staanspoor onder druk geplaas.

De Kock se veeghoue en Hendricks se aantreklike dryfhoue oor en deur die wegkant het die telbord aan die rol gehou. Dit was ook verblydend om te sien hoe hulle die verskillende draaibalboulers hanteer het.

Mark Boucher, die Proteas se hoofafrigter, kan nou ’n sug van verligting slaak, aangesien die druk op hom die laaste ruk toegeneem het. Hy het egter ’n kans verspeel om veral vir Lizaad Williams en Beuran Hendricks op die toer speelkans te gee.

Boucher se verweer sal waarskynlik net wees dat hy die span kies met die oog op volgende maand se T20-Wêreldbeker-toernooi.

Maar in die tye van bio-borrels kan dit nie goed wees vir enige speler om vir weke net aan oefeninge deel te neem en tyd in ’n hotelkamer deur te bring nie.

Ander spelers soos Andile Phehlukwayo en George Linde het óók nie in die T20-reeks gespeel nie, maar het wel speelkans in die ODI’s gekry.

Sisanda Magala het ook nie speelkans gekry nie.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters