16 dae gelede
SA fokus nie
Russell DomingoFoto: Gallo Images  ~ 

SWAK kolfwerk is een van die groot redes waarom Suid-Afrika se krieketspan vanjaar in die Wêreldbeker-toernooi in Engeland en Wallis sukkel.

“Te min lopies is al lank ’n probleem,” het die Proteas se voormalige afrigter Russell Domingo aan Algoa FM gesê.

Hy meen nog ’n rede waarom die Proteas sukkel om hulle beste te lewer, is die feit dat hulle aandag deur dinge weg van die speelveld afgetrek word.

Die omstredenheid rondom die ster-kolwer AB de Villiers se beskikbaarheid en al die beserings in die kamp het sake nie mak­liker gemaak vir die Proteas nie.

“Dit neem die spelers se fokus weg van die taak op die veld,” het Domingo gesê.

Hy meen nóg ’n rede vir die gesukkel is dat die Pro­teas kort voor die begin van die toernooi nie baie eendaagse krieket gespeel het nie.

Wat die boulwerk betref, voel Domingo die Proteas kort firepower om hulle ’n inspuiting te gee.

In dié opsig meen hy die afwisseling wat Beuran Hendricks as linksbouler bring, kan tot die Proteas se voordeel strek. “Dit was ’n baie taai begin vir die Proteas om so vroeg reeds teen Engeland en Indië te speel.

“Ek weet hoe daardie kleedkamer voel – ek was al daar. Die spelers het seer en daar is baie druk van die publiek wat die span wil sien presteer.

“Eintlik is dit ’n baie vreemde situasie vir Suid-Afrika. Gewoonlik begin ons goed in toernooie, maar nou is dit andersom en ons moet terugveg.”

Domingo beklemtoon die feit dat die kaptein, Faf du Plessis, se rol ná drie nederlae gou groter geword het.

“Dit is taai tye en Faf se leierskap is nou baie belangrik om die spelers kalm te hou.

“Wanneer die Proteas in situasies is waar hulle moet terugveg, speel hulle gewoonlik goeie krieket. Meer as een span mik na daardie vierde plek op die punteleer om deur te dring,” het hy afgesluit.

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters