2 maande gelede
SA afrigter slyp aan Oz se skrum
Petrus du Plessis  ~ Getty Images

PETRUS du Plessis, skrum­afrigter van die Wallabies, kon die oggend van laas week se Bledisloe Cup-kragmeting teen die All Blacks vir die eerste keer met die spelers werk.

Dié 39-jarige boorling van Hermanus is vir twee weke in kwarantyn geplaas en is eers die oggend van die toets in Sydney toegelaat om hom by die span aan te sluit.

Hy sê aan rugby.com.au: “Dit was ’n groot dag op kantoor. My eerste dag. Maar ek het natuurlik voor dit aanlyn baie met die voorrymanne gewerk.”

Fisioterapeut

Die vaskopstut het nooit internasionale rugby gespeel nie, maar hy is iemand wat baie van die Engelse Premierliga weet.

Hy is ’n gekwalifiseerde fisioterapeut en het van 2010 tot 2017 in ’n allemintige 158 games vir Saracens in Engeland uitgedraf.

Benewens Saracens, het hy ook St. Helens, Orrell, Sedgley Park, Nottingham, London Irish en Glasgow Warriors verteenwoordig.

In sy laaste seisoen in Glasgow was hy ’n speler-afrigter onder Dave Rennie, afrigter van die Wallabies.

“Ek het agt jaar vir Saracens gespeel, twee by London Irish en twee by Glasgow Warriors saam met Dave­ Rennie,” sê Du Plessis.

“In daai tyd het ek op die harde manier oor die skrums geleer. Ek het al saam met ’n paar ongelooflike spelers gewerk, by ’n hele paar ongelooflike spelers geleer en ook afgerig.

Bevraagteken

“Ek het toe natuurlik baie gedoen met Skotland en Glasgow Warriors.

Terwyl du Plessis se aanstelling by die Wallabies deur sommige in Australiese rugbykringe bevraagteken is, het Rennie sy vermoë raakgesien om die Warriors se skrum te transformeer.

“Kyk, ek dink toe ek die eerste keer na Glasgow Warriors gegaan het, is daar nie baie klem op die skrum gelê nie. Ek het ingekom en ’n verskil gemaak.

“Ons het laas jaar onder die topvyf in Europa in die skrums geëindig.

“My fisio-agtergrond speel ’n groot rol.

“Fisioterapie is basies bewegingsontleding.

“Ek is ’n kenner van nek-en kern-versterking. Dit help in die skrum.

“Hopelik kan ek waarde tot die Wallaby-skrum toevoeg,” sê hy.

Meer Stories

Lewer kommentaar op hierdie artikel
0 reaksies
Lewer kommentaar
Kommentaar 0 oorblywende karakters